ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generiese foto.

Limpopo deur na finaal ná Vikings-kolwers struikel

Date: 15 October 2021 By: Andries van Zyl

Die span van Limpopo Melkery het Saterdag, 9 Oktober, vir hulself ‘n plek in die finaal van die Louis Trichardt Krieketklub se 20-beurt liga verseker deur die NTT Toyota Vikings met 42 lopies te klop.

Limpopo het ingegaan om eerste te kolf in ‘n kolfbeurt wat ietwat stadig begin het. Openingskolwers Chris-Jan Hendriks en Nimesh Watekar het onderskeidelik 25 lopies van 22 balle en 11 lopies van 8 balle aangeteken voordat hulle paaltjies geval het. AJ Fourie, in op nommer drie, het egter die lopietelling ‘n dramatiese hupstoot gegee met ‘n blitsige 61 lopies van slegs 37 balle af. Dit het ingesluit vyf viere en vier sesse. Ná sy paaltjie geval het vanaf die boulwerk van Waldo van Deemter, het Dewald Joubert (29) en Amir Bux (18) nog bykans 50 lopies op die telbord geplaas, met Limpopo wat hul kolfbeurt afgesluit het op ‘n telling van 161 lopies vir die verlies van slegs drie paaltjies. Buiten vir Waldo se paaltjie, is die ander twee paaltjies gevat deur die Vikings se Craig Viljoen en Bielie van den Berg.

Die NTT Toyota Vikings het vanaf die eerste bal die telling probeer jaag, met openingskolwer Gysbert Guillaume wat 38 lopies van 41 balle aangeteken het, voordat hy uitgevang is vanaf die boulwerk van Salman Patel. Ná sy vertrek het die Vikings se kolfbeurt egter ‘n insinking beleef, met slegs Bielie van den Berg - in op nommer agt - wat daarin kon slaag om dubbelsyfers van 16 lopies aan te teken. Die hele span is in 18,5 beurte uitgeboul met die telling op 119 lopies. Van hierdie 119 lopies was 28 ekstras, danksy die boulwerk van Limpopo.

Vir Limpopo het Salman Patel geskitter met die bal. Hy het vyf paaltjies platgetrek vir die verlies van 19 lopies in sy vier beurte. Vimal Shah het op sy beurt drie paaltjies vir die verlies van 26 lopies in sy vier beurt ingepalm, met Nimesh Watekar en Dewald Joubert wat elk een paaltjie geneem het.

Saterdag se wedstryd was ‘n maak-of-breek stryd vir die twee spanne, met Limpopo wat direk deurdring na die finaal van die liga met 11 punte. Die NTT Toyota Vikings met nege punte en Strikers met vyf punte sal nou eers mekaar in die semi-finaal op 23 September die stryd aansê om te bepaal wie teen Limpopo te staan gaan kom. Die NTT Toyota Vikings sal sekerlik hoop hulle kry ‘n tweede kans.

 

 

 

 

 
 
 

Viewed: 2040

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT