ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Rock & Rollers het verlede Donderdagaand weggestap as wenners van die Louis Trichardt Rolbalklub se gewilde aandliga. Die span het bestaan uit (van links na regs) Warno Smit, TE Smit, Carel Volschenk (klubpresident), Francois Jonker en Waldo van Deventer. Spankaptein Johan Breytenbach kon nie die laaste wedstryd speel nie en was afwesig tydens die neem van die foto.

Rock & Rollers palm aandliga in

Date: 07 May 2021 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Rolbalklub se gewilde vriendskaplike aandliga het verlede Donderdagaand ten einde geloop, met die Rock & Rollers wat as wenners uit die stryd getree het.

Die liga is oor drie Donderdagaande beslis, op 15, 22 en 29 April. Die Rock & Rollers het bo-aan die punteleer geëindig met ‘n punteverskil van 120. In die tweede plek was die span van Thompson’s Motors met ‘n punteverskil van 76, terwyl die Bridge-span naelskraaps in die derde plek was met ‘n punteverskil van 70. Die Bridge-span is ook weereens aangewys as die span met die beste gees tydens die liga.

Die aandliga het weereens ‘n vol baan van 14 spanne gelok. Vir volledige uitslae van al die spanne, sien die kolom op die binneste agterblad van hierdie week se uitgawe.

Die rolbalklub het ná afloop van die liga al die spelers, ondernemings en instansies bedank wat spanne ingeskryf het. Die liga word nie net aangebied as fondsinsameling vir die klub nie, maar ook om die sportsoort te bemark. Spanne bestaan uit vier spelers elk en mag nie ‘n klublid insluit nie. Klublede is egter deurlopend beskikbaar om te help met raad.

Buiten die spanborge, het die klub ook hul dank uitgespreek teenoor mnr. Luke Enslin wat die worsbroodjies en Weense worsies gegee het, Oasis Water vir die water en Kobus Barkhuizen vir die vleis en verpakking daarvan. Dank het ook gegaan aan verskeie klublede: Anton vir die hout en sheba, Annemarie en Marietjie vir die hantering van die worsbroodjies ensovoorts, Dolf vir die sakke en borde, Ben, Carel en NJ vir die hantering van die kroeg en al die werkers wat binne en buite die klubhuis gehelp het.

“Die klub wil graag almal bedank wat deelgeneem het aan die aandreeks. Ons besef dit was onder moeilike omstandighede en ons is baie dankbaar vir die ondersteuning. Dit is ‘n geweldige inspuiting vir die klub. Daar is spanne wat mekaar wil uitdaag en die klub sal dit met graagte akkommodeer op 'n Saterdagmiddag. Hierdie wedstryde kan vooraf gereël word,” het klubpresident Carel Volschenk gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1523

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT