ADVERTISEMENT:

 

 
 

Generic image.

Louis Trichardt steier teen Hornbills

Date: 29 April 2021 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste krieketspan het Sondag, 25 April, ietwat die wind van voor gekry in hulle provinsiale Impala Premier ligawedstryd teen die Hornbills wat in Tzaneen beslis is.

Louis Trichardt het eerste gekolf, maar die kolwers het gesukkel om die telbord aan die gang te hou. Dirk van den Berg het geopen met 16 lopies, terwyl AJ Fourie en Dewald Joubert onderskeidelik 11 en 13 lopies bygedra het. Dit was egter FC Phillipson (18) en Stoffel du Toit (20) wat op die stertkant Louis Trichardt se telling darem oor die 100-tal gekry het in ‘n kolfbeurt wat drie nulletjies ingesluit het. Louis Trichardt se grootste enkele bydrae tot hul telling was egter die 26 ekstras wat Hornbills se boulers afgestaan het, met Louis Trichardt wat almal uitgeboul is vir 119 lopies in die 34ste boulbeurt.

Hornbills se sterbouler was Zylan McGaffin, wat drie paaltjies ingeoes het vir die verlies van 19 lopies in 10 beurte. Dit het drie leë beurte ingesluit. Spanmaats Gavin Dorfling, Emile Kruger en Timothy Elphinstone het elk twee paaltjies ingepalm met boulontledings van onderskeidelik twee vir 14 in vyf, twee vir 20 in sewe en twee vir 20 in twee.

Hornbills se kolwers was van meet af nie van plan om op die kolfblad tyd te mors nie. Alhoewel hulle hul openingskolwers, Aubrey van Reenen (3) en Paul Howken (11), redelik goedkoop verloor het vir ‘n bydrae van 14 lopies, het Emile Kruger (27 lopies van 28 balle wat ingesluit het vier viere), Johan Viljoen (34 van 24 balle wat ingesluit het drie viere en drie sesse) en Abe Cilliers (22 van nege balle af wat ingesluit het drie viere en ‘n ses) vinnig die teiken gehaal en die wenlopies van 120 in die 15de beurt geslaan met ses paaltjies steeds staande.

Vir Louis Trichardt het Jandré Hancke, JP Coetzee, FC Phillipson en Dirk van den Berg elk een paaltjie gevat.

Louis Trichardt sal eerskomende Sondag, 2 Mei, tuisveldvoordeel geniet wanneer hulle teen Phoenix van Tzaneen te staan kom.

 

 
 
 

Viewed: 952

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT