ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se eerstespan krieketspelers vier fees ná hul vyf-lopie oorwinning oor die Eagles in Polokwane die afgelope naweek. Foto verskaf.

Naelbyter wedstryd einding in Louis Trichardt se guns

Date: 22 April 2021 By: Andries van Zyl

Louis Trichardt se eerste krieketspan het Sondag teen strawwe kompetisie te staan gekom in hul Impala Premier-liga wedstryd teen die Eagles, maar kon daarin slaag om ‘n vyf-lopie oorwinning te behaal in a naelbyter wedstryd.

Die kragmeting is op PHS se veld in Polokwane beslis. Louis Trichardt het die loot gewen en besluit om eerste te gaan kolf, maar die lopies was maar skaars - iets wat duidelik te sien was in die 94 minute wat openingskolwer Dirk van den Berg voor die paaltjies spandeer het vir slegs 16 lopies terwyl die paaltjies aan die ander kant getuimel het. Louis Trichardt het egter dapper voortgekolf, maar met die telling op 75 lopies het die kolfspan ‘n insinking beleef met vier paaltjies wat geval het vir slegs 10 addisionele  lopies. Die stertkant kolwers het daarna dapper probeer voortkolf, maar Louis Trichardt se laaste paaltjie het in die 36ste boulbeurt geval met die telling op slegs 121 lopies. Nege-en-twintig van dié lopies was egter te danke aan die Eagles se boulers wat wydlopers geboul het. Buiten vir Dirk van den Berg was die enigste ander kolwers wat dubbelsyfers kon aanteken JM Philips (22), JP van Niekerk (13) en FC Phillipson (11).

Die Eagles se mees ekonomiese bouler was G. van Zyl, wat geëindig het met ‘n boulontleding van drie paaltjies vir die verlies van 12 lopies in agt boulbeurte. Dit het ingesluit drie leë boulbeurte. Spanmaat S. Willemse het ook drie paaltjies platgetrek, maar vir die verlies van 35 lopies in sy 10 boulbeurte. M. McNicol het twee paaltjies vir die verlies van 43 lopies in ses beurte geneem, terwyl A. Labuschagne een paaltjies ingeoes het vir die verlies van 2 lopies in 1,1 beurte.

Met ‘n teiken van slegs 122 lopies om te wen en 300 balle om dit te behaal, was die Eagles beslis die gunstelinge om die wedstryd te wen. Hulle kolfbeurt het egter ‘n vroeë terugslag beleef met openingskolwer H. Strydom wat uitgevang is op sy eerste bal met die Eagles se telling op 0. Die Eagles se treurmare het voortgeduur en met slegs 16 lopies op die telbord was drie paaltjies reeds plat. Kolwers D. Kruger op nommer drie, P. De Kock op nommer vyf en S. Willemse op nommer ses het probeer om bietjie bestendigheid in die Eagles se kolfbeurt te bring, met bydraes van onderskeidelik 27, 23 en 24 lopies. Niemand anders in die span kon egter dubbelsyfers aanteken nie, met die laaste paaltjie wat geval het in die 20ste beurt vir slegs 116 lopies.

Dirk van den Berg was weereens in verwoestende vorm met die bal en het vier paaltjies platgetrek vir die verlies van slegs 21 lopies in 5,4 beurte. Hy is goed ondersteun deur AJ Fourie wat drie paaltjies laat kantel vir die verlies van 35 lopies in vyf beurte, terwyl JP Coetzee twee paaltjies geneem het vir 23 lopies in vier beurte en J Hancke een paaltjie gevat het vir 33 lopies in vyf beurte. Louis Trichard se boulbeurt het 21 ekstras ingesluit, waarvan 19 wydlopers was.

Eerskomende Sondag, 25 April, sal Louis Trichardt se eerstes te staan kom in ‘n wegwedstryd teen die Hornbills Krieketklub van Tzaneen. Tans lê Louis Trichardt ná die naweek eerste op die provinsiale punteleer.

 

 
 
 

Viewed: 891

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT