ADVERTISEMENT:

 

 
 

Swannie Swanepoel (links) saam met Brian Baragwanath (regs). Foto verskaf.

Dakar wink vir Swannie

Date: 24 October 2020 By: Pétria de Vaal

“Dit is ‘n geleentheid van ‘n leeftyd, iets wat Swannie nie kan misloop nie.” Só sê Swannie se ouers, Peet en Alice Swanepoel. Opgewonde vertel hulle van die uitnodiging wat hul seun ontvang het van die bekende Brian Baragwanath om deel van sy span te wees vir die Dakar wedren in Januarie 2021 wat in Saoedi-Arabië plaasvind.

Swannie gaan saam om spesifiek deel van die kuipespan te wees. Hy en Brian ken mekaar al etlike jare. Hulle het veral saam deelgeneem aan vierwielmotorfietswedrenne. Brian het egter in 2016 sy arm gebreek en neem sedertdien deel aan veldry-motorwedrenne. Op 3 Oktober het Brian deurgekom Louis Trichardt toe om vir die mense te wys wat hy doen en Swannie is vier dae later genader om deel te wees van die span.

Die Dakar-tydren is 'n jaarlikse tydren wat deur die Amaury Sport Organisation georganiseer word en is oop vir professionele en amateurjaers, maar amateurs maak gewoonlik tot 80% van die jaers uit. Hierdie “woestynkategorie” van dié gewilde wedren begin en eindig in Jeddah, die ekonomiese hartklop van hierdie land. Op die roete is ook die interessante Ha’il, wat ‘n belangrike stopplek op handelsroetes tussen die Rooisee en die eertydse Mesopotamië was. Hierdie area is bekend vir sy rotse - bedek met rotskuns wat getuig van menslike aktiwiteite wat terugdateer na bykans 10 000 jaar gelede. Deesdae word hierdie gebied as die “wieg” van woestynwedrenne beskou.

Stefan, oftewel Swannie Swanepoel soos hy beter bekend staan, is die eienaar van “Swannies Racing Bikeshop” in Louis Trichardt en is self ‘n sportman van formaat. Behalwe vir sy groot liefde vir rugby, sal lesers onthou dat hy reeds in 2009 bekroon is as Motorsport SA (MSA) se kampioen enduro-vierwielmotorfietsrenjaer van 2009. Hy het reeds in 2003 begin deelneem.

Vir Swannie is dit ‘n groot eer en voorreg om vir Brian en die res van die span te vergesel. Brian is die motorbestuurder en Taye Perry is hulp-bestuurder. Taye het bekendheid verwerf as die eerste vrou uit Afrika om ‘n Dakar tydren op haar motorfiets te voltooi (2020). Alles gaan vanselfsprekend met groot onkoste gepaard en spanlede moet elk R250 000 insamel. Swannie steun sterk op borge en weldoeners en ‘n beroep word op die gemeenskap gedoen om bydraes te lewer wat hom in staat sal stel om te kan saamgaan.

Bydraes kan gemaak word aan Team Rhide SA (Pty) Ltd, Standard Bank, rekeningnommer 331617994, takkode 052548 met verwysing “Swannie”. Weldoeners kan ook ‘n faktuur versoek. Vir enige navrae, kontak vir Swannie by 071 859 6924.

 

 
 
 

Viewed: 2328

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT