ADVERTISEMENT:

 

 
 

Anton Swanepoel (links bo), Henk Beukes (bo regs), Inus Steyn (links onder, Ronel Welman (regs onder) en Sheryl James (middel).

Virus wurg lewe uit sportklubs

Date: 12 June 2020 By: Pétria de Vaal

Nie-kontaksportsoorte mag steeds nie onder die Vlak 3 inperkingsregulasies beoefen word nie. Slegs diegene wat dit op professionele vlak doen, mag klaarblyklik voortgaan met oefening.

Die Zoutpansberger het met ‘n paar van ons plaaslike sportklubs en ons eie professionele Paralimpiese atleet, Sheryl James, gaan gesels.

Volgens die voorsitter van die Soutpansberg Muurbalklub, Ronel Welman, is nog geen toestemming aan hulle verleen om weer te kan oopmaak nie. Muurbal is ‘n sport wat as ‘n “fasiliteit” bestuur word en nie as ‘n “nie-kontaksport” nie. Vandat die afkondiging gemaak is deur die minister, het klubs 14 dae tyd om aansoek te doen om te heropen. Die Suid-Afrikaanse Muurbalfederasie het ‘n plan ingedien en wag nou op terugvoer. Ronel sê dat hulle steeds toe is, is te betreur, want muurbal is die ideale sport om in die wintertyd te beoefen – juis omdat dit binnenshuis is. Die werkersmag kan gerieflik ná 17:00 smiddae gaan oefen. Met slegs twee muurbalspelers in ‘n area van 50m2, sou dit gewis moontlik wees om die sport veilig te kan beoefen.

Inus Steyn, kaptein van die Soutpansberg Gholfklub, is saam met baie gholfspelers gefrustreerd omdat die klub steeds nie kan open nie. Alles wat nodig is, is reeds by Gholf SA ingedien. Ten spyte van boodskappe van aanmoediging wat gereeld van die Limpopo-unie ontvang word, is gholfspelers al baie gefrustreerd. “Gholf is die enigste sport wat ‘n familie sal kan saamdoen – juis met die feit in gedagte dat skoolsport vir ‘n lang tyd nie sal plaasvind nie,” sê Inus.  

Die president van die Louis Trichardt Rolbalklub, Anton Swanepoel, hoop dat hulle weer binnekort die klub se aktiwiteite kan hervat. ‘n Groot probleem vir die klub is dat baie lede ouer is en hulle dus ‘n groter risiko loop om te gaan speel. Volgens Swanepoel sal hulle ná die hervatting van aktiwiteite waarskynlik dan meer op enkel- en dubbelspel fokus, waar minder spelers betrokke is. In die tussentyd word die rolbalbaan slegs onderhou.

“Ons is nou redelik moeg gekyk na die tennisbane.” Aldus Henk Beukes, voorsitter van die Louis Trichardt Tennisklub. Normaalweg sou die klub geen voordele daaruit trek om geaffilieer te wees by Tennis Suid-Afrika (TSA) nie. Gedurende die grendelstaat het hulle egter besluit om wél te affilieer, aangesien afrigters moontlik sou kon voortgaan met afrigting onder Vlak 3 van inperking. Die uiteinde was dat geen afrigting of oefening egter plaasvind nie. Hulle het selfs gehoop dat die kinders wat Limpopo-kleure verwerf het en oor die Paasnaweek aan die Suid-Afrikaanse kampioenskappe sou deelneem, op “professionele” vlak afrigting sou kon ontvang. Dit was egter nie moontlik nie, omdat “professioneel” in die riglyne vanaf die regering slegs diegene wat ‘n inkomste uit sport verdien, aanspreek. Behalwe vir tuinmaak en onderhoud aan die bane, kan dit steeds nie oopgestel word nie, selfs nie vir oefening nie.

Die Louis Trichardt Gimnastiekklub is ook steeds toe. Volgens Elzabé Stewart van die klub is alle nodige aansoeke reeds deur middel van die Suid-Afrikaanse Gimnastiek-Federasie (SAGF) ingedien. Hierdie aansoeke gaan juis daaroor dat gimnastiek nie ‘n kontaksport is nie. “Dit help nie om te bespiegel oor wanneer ons gaan of kan oopmaak nie, ons moet net alles gereed kry vir wanneer dit wél gebeur,” sê Elzabé.

Soos by skole sal al die nodige maatreëls tydens gimnastiekafrigting in plek wees. Lede se temperatuur word byvoorbeeld geneem en alles word genotuleer. Alle apparaat word vóór en na gebruik ontsmet. Klubbestuurslede, afrigters en gesondheids- en veiligheidsbeamptes is verplig om die nodige Covid-19 opleiding te deurloop. Ouers sal byvoorbeeld ook nie teenwoordig kan wees wanneer kinders oefen nie. Eie waterbottels en eie poeier-houers is maar van die vereistes wat in plek moet wees. Interessant is dat, afhangend van die Covid-19 vlak, die aantal leerlinge per afrigter gaan verskil. Só is byvoorbeeld bepaal dat elke afrigter tydens Vlak 3, 10 leerlinge mag afrig. Gedurende vlak 2 en 1 sal die aantal leerlinge slegs gebaseer wees op sosiale distansiëring. “Alles is egter nou hangende, totdat ons van die regering hoor,” sê Elzabé.

Die Soutpansberg se eie professionele atleet, Sheryl James, kon gedurende die inperking steeds oefen. Sy sê dat sy baie gelukkig is om op ‘n plaas te bly en met sekere aanpassings kon sy daar voortgaan met oefening.  Normaalweg is haar oefenplek by Hoërskool Louis Trichardt. Lesers sal onthou dat sy gedurende November 2019 vir Suid-Afrika ‘n brons medalje in die 400m huis toe gebring het vanaf die Wêreld Para Atletiekkampioenskappe in Dubai.

“Die nuus dat professionele sportmanne en –vroue vanaf Vlak 3 van die Covid-19 inperking vrylik kan oefen, is nie heeltemal waar nie,” sê Sheryl. Dit word slegs onder sekere omstandighede en tydgleuwe toegelaat. Sy weet dat sommige professionele atlete by Tukkies byvoorbeeld steeds nie kan oefen nie. Alle byeenkomste is uitgestel. Só sal die Paralimpiese Spele in Tokio nou eers in Augustus 2021 plaasvind – ‘n geleentheid waarvoor Sheryl steeds hard aan die oefen is. Sy wil graag die hoof-organisasies vir atlete in Suid-Afrika bedank vir konstante ondersteuning aan almal.

 

 
 
 

Viewed: 1820

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT