ADVERTISEMENT:

 

 
 

Een van die dag se groot uitblinkers was Gerhard Furstenberg van Louis Trichardt, wat die Nipper-afdeling gewen het. Rijandre de Bruin van Pietersburg-Oos was tweede en Daniel Eager van Waterberg Akademie derde. Regs staan Stanford Lake College se hoofseun, Casper Venter, en links is Lara Dando, Stanford se onderhoofmeisie. Foto: Mark Archer.

Jong Triegie-trappers derde in Spur XCO-liga

Date: 07 September 2019 By: Anton van Zyl

Laerskool Louis Trichardt se fietsryers het Saterdag weer goeie vertonings gelewer by die vierde en laaste been van die Spur XCO-skoleliga, die Tour de Lake, wat by Stanford Lake College gehou is. Die spannetjie het ‘n rits medaljes ingepalm en ook gesorg dat die skool algeheel derde eindig in die reeks.

Reeds vroeg die oggend het Aiden Bruce, wat in die sub-Nipper-afdeling ry, die span se staal gewys. Aiden het tegniese probleme met die wegspring ondervind en moes toe die res van die veld van 32 fietsryers injaag. Hy het tweede geëindig en seker gemaak dat hy sy Limpopo-kleure verwerf. In dieselfde resies het Aiden se spanmaat, Mauritz Meiring, vyfde geëindig. Twee fietsryers van die CVO-skool Zoutpansberg, Zack Fourie en Joshua Cronjé, was onderskeidelik sesde en agtste. Laerskool Messina se Elru Britz was negende.

In die Sub-Nipper-afdeling het die plaaslike jaers gesukkel. Aldoné Schwerdtfeger van die CVO Zoutpansberg was vyfde en Louis Trichardt se Eloise Krugel was negende. Messina se Nelda Strijdom was 10de.

Een van die dag se groot uitblinkers was Gerhard Furstenberg van Louis Trichardt, wat die Nipper-afdeling gewen het. Sy spanmaats, Peroux du Preez (vyfde) en Nicolas Archer (negende), het ook baie goeie vertonings gelewer.

In die Nipper-afdeling vir meisies het Carla Breytenbach gewys dat sy nie onderskat moet word nie. Dit was slegs Carla se tweede resies en sy was in ‘n titaniese stryd gewikkel met Lohane Ehlers van Pietersburg Oos en haar Louis Trichardt-spanmaat, Cara Bruce. Carla het etlike sekondes voor Lohane klaargemaak, met Cara derde. Karina Swanepoel van Laerskool Levubu was vyfde, Ané Snyman van Louis Trichardt was sesde en Laerskool Messina se Sunique Coetzee was 10de.

In die Sprogs-afdeling vir meisies het Laerskool Messina baie goed presteer. Dané Strijdom was sesde, Mi-Né Verster was sewende en Mikyla Gemer was agtste. Melissa Laubscher van Messina was 10de.

Die sub-Junior-afdeling vir seuns het vir strawwe kompetisie gesorg, maar Messina se Waldo Strijdom (vierde) en Hanré van den Berg (vyfde) het hul staal getoon. Louis Trichardt se Jacques du Preez het 10de geëindig, met gebreekte gewrig en al. Jacques het goed gevaar die afgelope seisoen, maar ongelukkig sy gewrig gebreek tydens ‘n oefening en moes een wedren misloop.

In die afdeling vir sub-Junior meisies het Messina se Geane Anderson vyfde geëindig. Catelyn de Beer van Louis Trichardt was sewende.

Wat die algehele uitslae vir die reeks betref, het Laerskool Louis Trichardt se span derde geëindig. Die reeks is gewen deur Pietersburg Oos-skool, met Laerskool Krugerpark tweede. Laerskool Messina was vyfde en Laerskool Levubu se span het in ‘n baie verdienstelike 10de plek geëindig.

Die top drie jaers in elke afdeling ná afloop van die reeks het Limpopo-kleure verwerf. Die plaaslike fietsryers wat kleure in die afdeling vir laerskole verwerf het, is Aiden Bruce (derde in seuns sub-Nipper-afdeling) en Cara Bruce (tweede in die meisies Nipper-afdeling).

 

 
 
 

Viewed: 1528

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die Nipper-afdeling vir meisies is Saterdag deur Laerskool Louis Trichardt se Carla Breytenbach gewen. Lohane Ehlers van Pietersburg Oos was tweede en Cara Bruce van Louis Trichardt was derde. Links staan Stanford Lake College se hoofseun, Casper Venter (wat ook van Louis Trichardt is) en regs is Lara Dando, Stanford se onderhoofmeisie. Foto: Mark Archer.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT