ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Verheugde eerstespan van Louis Trichardt kort na hul 44-27 oorwinning oor Letaba in die semi-finaal van die Limpopo Senior Rugbyliga. Hulle kom eerskomende Saterdag op hul tuisveld teen Potgietersrus 1 te staan in die finaal van die liga. Foto verskaf.

Tuisveld rugbyaksie in Limpopo-finaal

Date: 24 August 2019 By: Andries van Zyl

Vir die eerste keer in agt jaar sal beide Louis Trichardt se eerste en tweede rugbyspanne tuisveldvoordeel geniet in die finaal van die Limpopo Senior Rugbyliga.

Louis Trichardt se eerstes het vir hulself ‘n plek in die finaal verseker deur Saterdag 44-27 af te reken met Letaba se eerstes, terwyl die dorp se tweedes Potgietersrus 2 met ‘n redelik oortuigende telling van 31-3 kafgedraf het. Louis Trichardt se derdespan, oftewel die Univen-span, het in die semi-finaal van die liga te staan gekom teen Noordelikes 3 van Polokwane. Alhoewel hulle goed gelyk het met ‘n gelykop telling van 7-7 teen halftyd, het Noordelikes die krane oopgedraai in die tweede helfte en Louis Trichardt uiteindelik met ‘n telling van 26-7 geklop.

Die laaste keer wat Louis Trichardt se eerstes en tweedes saam deurgedring het na die finaal van die senior liga (die ou Boet Fick-liga) en ook die liga gewen het, was in 2011. Beide spanne het ook toe tuisveldvoordeel geniet. Louis Trichardt se eerstes het as provinsiale wenners uit die stryd getree deur 35-5 af te reken met Loskop 1, terwyl Louis Trichardt se tweedes as provinsiale wenners uit die stryd getree het deur 23-17 af te reken met die Universiteit van Limpopo. Die enigste ander keer die afgelope agt jaar wat Louis Trichardt ‘n span in die finaal van die provinsiale senior liga kon kry, was in 2015, toe die dorp se eerstes as naaswenners uit die stryd moes tree na ‘n 22-14 tuisveld-nederlaag teen Noordelikes.

Louis Trichardt sal dus eerskomende Saterdag, 24 Augustus, weer die geskiedenisboeke wil herskryf met tuisveldwedstryde vir hul eerstes en tweedes in die finaal van die senior liga. Die eerste wedstryd van die dag skop om 15:00 af. Dit sal wees tussen Kruinies 3 en Noordelikes 3 om die provinsiale wenners in die reserwe-liga te bepaal. Louis Trichardt 2 en Letaba 2 sal daarna om 16:30 op die veld draf, met die hoofwedstryd van die dag tussen Louis Trichardt 1 en Potgietersrus 1 wat om 18:00 sal begin.

Plaaslike rugbyliefhebbers word uitgenooi om deel te wees van die naweek se feestelikhede. Toegang by die hek is weer gratis en verversings en ‘n kontantkroeg sal beskikbaar wees. Toeskouers is ook welkom om hul gasbraaiers in te pak en lekker om die veld te kom saamkuier en braai.

Intussen het die Louis Trichardt Rugbyklub hul dank uitgespreek teenoor Michael Parkin Drilling, Riaz (Vodacom), Powafix, Coastal Hire, GT Verspreiders, Wynand Louw, SAB Louis Trichardt en Thohoyandou, Nedtex en Pieter van Heerden Verkoeling wat as borge opgetree het vir die semi-finale wedstryde.

 

 
 
 

Viewed: 1109

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT