ADVERTISEMENT:

 

 
 

Louis Trichardt se tweedespan agsteman Bertie Swanepoel bars deur die verdediging tydens hul laaste groepwedstryd van die Limpopo senior rugbyliga die afgelope naweek teen Potgietersrus se tweede. Dit was maar redelik ‘n eensydige wedstryd met Louis Trichardt wat Potties 73-0 klop.

Louis Trichardt maak skoonskip teen Potties

Date: 19 July 2019 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Rugbyklub se eerste- en tweedespan het Saterdag, 13 Julie, hulle laaste groepwedstryd van die Limpopo senior rugbyliga op hul tuisveld gespeel en met nog oorwinnings weggestap.

Daar was geen keer aan Louis Trichardt se tweedes nie. Hulle het Potgietersrus se tweedes behoorlik vermorsel met ‘n telling van 73-0. Louis Trichardt se tweedes het bo-aan die provinsiale punteleer geëindig ná afloop van die ronde groepwedstryde deur ses van hulle sewe wedstryd te wen. Letaba lê tweede, Noordelikes derde met Potgietersrus en Naboomspruit se tweedes onderskeidelik in die vierde en vyfde plekke.

Louis Trichardt se eerstespan spog ook met nog ‘n wen op hul kerfstok teen Potties se eerstes Saterdag, alhoewel minder gemaklik met ‘n telling van 33-31. Die eerstes het ook bo-aan die provinsiale punteleer geëindig ná afloop van die groepwedstryd deur ses van hul agt wedstryde te wen. Noordelikes is tweede in die liga vir eerstespanne, met Potgietersrus in die derde plek. Letaba en Naboomspruit is onderskeidelik vierde en vyfde.

Louis Trichardt se eerstes en tweedes sal nou ‘n kort blaaskans neem ter voorbereiding van die semi-finale ronde van die senior liga wat op 17 Augustus beslis sal word.

Louis Trichardt se derdespan, oftewel die Univen-span, het Saterdag net ‘n “vriendskaplike” wedstryd gespeel, nadat Potties nie ‘n span bymekaar kon kry nie en punte gestuur het. Twee spanne is opgemaak uit die beskikbare spelers met van die Univen spelers wat vir Potties uitgedraf het. Die Univen-span wen 37-10 ‘n ‘n verkorte wedstryd. Alhoewel die dorp se eerste- en tweedespan klaar is met hul groepwedstryde, lê daar nog een wedstryd vir die Univen-span voor. Dit is op 17 Julie wanneer hulle teen die Universiteit van Limpopo te staan kom op hul opponente se tuisveld. Tans beklee die Univen-span ‘n derde plek op die provinsiale punteleer, met Kruinies eerste en Noordelikes tweede. Potgietersrus en die Universiteit van Limpopo is onderskeidelik vierde en vyfde.

 

 
 
 

Viewed: 508

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

JJ de Lange, slot vir Louis Trichardt se tweedespan, in die proses om ‘n duikslag van een van Potgietersrus se speler af te wees. Die tweede spanne het Saterdag op Louis Trichardt se tuisveld kragte gemeet met Louis Trichardt wat Potties ‘n rugbyles gee met ‘n wentelling van 73-0.

‘n Speler van Potgietersrus probeer verbete om Univen stut Mukovhe Maedza grond toe te bring. Die Univen-span, nou amptelik Louis Trichardt se derdespan, het Saterdag net ‘n “vriendskaplike” wedstryd gespeel, nadat Potties nie ‘n span bymekaar kon kry nie en punte gestuur het.

Louis Trichardt se derdespan, oftewel die Univen-span, het Saterdag net ‘n “vriendskaplike” wedstryd gespeel, nadat Potties nie ‘n span bymekaar kon kry nie en punte gestuur het. Die Univen-span wen 37-10 ‘n ‘n verkorte wedstryd. Afgeneem is Univen se flank Lindu Mbedzi op pad na die doellyn toe.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT