ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike kragman Leon le Roux (regs), afgeneem saam met Gerhard van Staden (links) tydens die kompetisie in Boksburg. Van Staden is ‘n driemalige Suid-Afrikaanse Sterkman en ook deelnemer aan die World’s Strongest Man-kompetisie. Hy is ook die president van die Africa Strongman Union. Foto verskaf.

Kragman Leon mik na Amerika

Date: 12 April 2019 By: Andries van Zyl

Plaaslike kragman Leon le Roux het op 30 Maart weer bietjie die spiere gebult tydens ‘n kwalifiserende rondte vir die Suid-Afrikaanse Sterkmankampioenskappe by die East Rand Mall in Boksburg.

Hierdie 46-jarige adjudant-offisier van Lugmagbasis Louis Trichardt moes by sy aankoms verneem dat hy die enigste Meester was wat vir die kompetisie opgedaag het. “Toe sê hulle ek moet sommer saam met die jongmanne deelneem,” het Leon gesê.

Leon het aan vyf items in die onder 105kg deelgeneem. Die eerste van die items was die 110 kg Log Press, waar jy moet kyk hoeveel keer jy die gewig in een minuut bokant jou kop kan uitdruk. Ongelukkig kon Leon nie die item voltooi nie en moes aanbeweeg na die Deadlift. Dit behels ook dat deelnemers moet kyk hoeveel keer hulle ‘n 200 kg gewig kan optel in een minuut. “Ek kon 11 doen en eindig algeheel derde in die afdeling,” het Leon gesê.

Daarna was dit die moordende Carry Medley, waar daar van atlete verwag word om ‘n 300 kg Yoke Walk, 120 kg per hand Farmers Walk en 100 kg sandsak die een na die ander oor ‘n afstand van 20 meter teen tyd te dra. “Hier was ons drie wat gelyk geëindig het,” het Leon gesê. Ná dit moes Leon ‘n 9-ton vragmotor sleep oor ‘n afstand van 25 meter. “My tyd was 48 sekondes, wat aan my ‘n tweede plek gegee het in dié item,” het Leon gesê.

Leon se goeie vertoning, en dit nogal op sy verjaarsdag, het aan hom ‘n algehele derde plek onder die jong manne in die onder 105 kg-afdeling besorg. Sy volgende groot kompetisie is die gewilde Arnold Classic Africa vanaf 17 tot 19 Mei, waar hy in die pro-afdeling sal deelneem. “As ek daar goed doen, kry ek dan my uitnodiging na die World's Strongest Man wat in Desember in Ohio, Amerika, sal plaasvind. Dit is ‘n belewenis om die sport te doen en ek het nooit gedink ek sal so ver vorder nie,” het Leon gesê.

Leon het sy dank uitgespreek teenoor almal wat hom so getrou ondersteun. “Baie dankie aan my vrou, Marihan, vir haar ondersteuning en bystand. Sy staan my by deur alles en motiveer my as ek twyfel. Sy is ‘n ware steunpilaar,” het Leon gesê.

Dank het ook gegaan aan sy afrigter, advokaat Francois van Zyl. “Hy staan sy persoonlike tyd af om te help met my afrigting en voorbereiding. Hy is inderdaad ‘n goeie afrigter,” het Leon gesê.

Volgens Leon gaan dit vir hom nie net oor wen nie. “…solank ek elke keer net beter kan doen as ‘n vorige keer, het ek reeds gewen. Dankie aan die Here dat hy my toelaat en bystaan om my talent te beoefen,” het Leon gesê. Hy het ook die bestuur van Lugmagbasis Makhado bedank wat hom toelaat om voor te berei vir die kompetisies. “Die SALM maak dit makliker. As die Here my spaar, wil ek nog deelneem tot ek 50 is,” het Leon gesê.

 

 
 
 

Viewed: 701

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Leon le Roux palm ‘n tweede plek in die 9-ton Truck Pull in. Foto verskaf.

Leon stap hier met 120 kg in elke hand in die Farmer’s Walk item as deel van die Carry Medley. Foto verskaf.

Sterkman Leon le Roux besig met die 300 kg Yoke Walk tydens die kompetisie by die East Rand Mall. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT