ADVERTISEMENT:

 

 
 

CP van Wyk in aksie tydens vanoggend se tydtoets van die Cape Epic. Foto: Ralda van Wyk.

CP en Alan vertoon steeds goed

Date: 21 March 2019 By: Anton van Zyl

Die Insect Science Pro-span bestaande uit CP van Wyk en Alan Gordon het vanoggend (Donderdag) se tydtoets oor 43 kilometer in 1:55:00 voltooi, vir ‘n 34ste plek algeheel op die skof. Ná die vierde skof van die moordende Absa Cape Epic is hulle nou algeheel 34ste en die agste Suid-Afrikaanse span.

Donderdag se tydtoets het begin en geëindig by die Oak Valley Landgoed in Grabouw. Die roete was aansienlik korter as die vorige twee dae se skofte, maar die spanne moes teen die horlosie jaag en het nie gelyktydig weggespring nie.

Die skof is gewen deur wêreldkampioen Nino Schurter en sy spanmaat Lars Forster. Hulle het die roete voltooi in 1:38:00, twee minute voor hulle naaste teenstanders, Manuel Fumic en Henrique Avancini. Schurter en Forster het die eerste twee skofte gewen, maar moes toekyk hoe Fumic en Avancini Dinsdag se marathon-skof wen en die geeltruie by hulle afneem. Die Switserse span kon egter vanoggend hul agterstand verklein en is nou ‘n minuut agter Fumic en Avancini, wat met ‘n totale tyd van 14 uur 59 minute spog.

Die Insect Science Pro-span is weliswaar nie ‘n bedreiging vir die voorlopers nie en hul totale rytyd is 17 uur en 16 minute. Enige iets kan egter nog gebeur in die drie skofte wat voorlê en die Cape Epic het al in die verlede gewys dat die roetes deur die Kaapse berge die deelnemers nederig hou. Vir CP en Alan is dit egter ‘n wonderlike geleentheid om hul krag en vernuf te toets teen die wêreld se beste bergfietsryers.

Vrydag se roete begin in Grabouw en eindig in Stellenbosch. Die 100 kilometer wat die jaers aandurf sluit ‘n totale klim van 2 850 meter in. Dit word beskou as sekerlik die taaiste skof in die Cape Epic. Saterdag durf die deelnemers ‘n 85 km sirkelroete rondom Stelllenbosch aan wat ook verskeie bergpaaie insluit. Die resies eindig Sondag by die Val de Vie Landgoed in Stellenbosch, maar nie voordat die spanne ‘n 70 km roete, onder meer deur die Kaapse wynlande, voltooi nie.

 
 
 

Viewed: 523

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT