ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alan Gordon (links) en CP van Wyk van die Insect Science Pro-span afgeneem kort ná die einde van Dinsdag se tweede skof van die Absa Cape Epic. Foto: Ralda van Wyk.

CP en Alan verbeter posisie in Cape Epic

Date: 19 March 2019 By: Anton van Zyl

Ná nog ‘n goeie vertoning in die tweede skof van die Absa Cape Epic het die Insect Science Pro-span hul algehele posisie verbeter en is nou in die 35ste plek. Die span bestaan uit oud-Triegie CP van Wyk en Alan Gordon van Tzaneen.

Vanoggend se skof is oor bykans 90 kilometer beslis en het begin op Hermanus. Die meer as 670 spanne het ‘n strawwe roete teen die bergpasse uit gevolg, tot by die eindpunt by die Oak Valley Estate in Grabouw. Die fietsryers moes ongeveer 2 250 meter klim.

Die skof is gewen deur die Switserse jaers Nino Schurter en Lars Forster. Hulle is tot dusver onoorwonne, maar die Cannondale Factory Racing span, bestaande uit Manuel Fumic en Henrique Avancini is kort op hulle hakke. Slegs bietjie meer as vier minute skei die eerste twee spanne ná Skof 2.

CP en Alan doen uitsonderlik goed om in hierdie geselskap by te bly. Hulle het 30ste geëindig in vanoggend se skof, en het bietjie meer as 23 minute ná die voorlopers by die eindpunt opgedaag. Insect Science Pro is ook die sewende Suid-Afrikaanse span in dié stadium. Die voorlopers in dié stryd om die Suid-Afrikaanse Epic-kampioen is Alan Hatherley en Matthew Beers, wat vir die Specialized Foundation NAD-span jaag.

Die Cape Epic word beskou as een van die taaiste bergfietskompetisies in die wêreld. Dit word beslis oor agt dae oor 650 moordende kilometers. Die kompetisie lok ook jaarliks die wêreld se beste bergfietsryers wat in spanne van twee deelneem.

CP en Allan het sterk vertoon tydens die tweede skof en was heel ontspanne toe hulle by die eindpunt aangekom het. Tydens gister se skof het Allan gesukkel met krampe, maar dit het duidelik nie vanoggend gepla nie. Hulle word ook goed ondersteun deur die Insect Science Pro-span se helpers, wat 'n fisioterapeut en biokinetikus insluit.

Woensdag se skof beloof om een van die taaistes te wees en dit strek oor 107 kilometer. Die jaers gaan onder meer die Groenlandberg aandurf (die hoogste punt in die resies) en die totale klim word geskat op 2 800 meter. Dit is ‘n sirkelroete wat begin en eindig by Oak Valley Estate in Grabouw.

Die spanne se vordering kan gevolg word deur die webtuiste te besoek by www.cape-epic.com. Daar is ook ‘n baie handige toepassing wat afgelaai kan word vanaf die Google Play Store of Apple se iStore.

 

 
 
 

Viewed: 516

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Alan Gordon (voor) en CP van Wyk van die Insect Science Pro-span in aksie tydens Dinsdag se tweede skof van die Absa Cape Epic. Foto: Ralda van Wyk.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT