ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Louis Trichardt Tennisklub is tans besig om al ses hul bane te herseël. Daar is Dinsdag begin om die eerste drie van die ses bane oor te doen. Afgeneem voor een van die eerste drie bane wat herseël is, is klubvoorsitter JG van de Berg (regs) en ondervoorsitter Henk Beukes (links). In die agtergrond is spelers steeds besig om vir eers gebruik te maak van die oorblywende drie “ou” bane.  

Tennisklub besig om nuwe baadjie aan te trek

Date: 10 August 2018 By: Andries van Zyl

Die Louis Trichardt Tennisklub word tans ‘n nuwe baadjie aangetrek, nadat die klub die afgelope week begin het met die herseël van al ses hul bane.

Volgens klubvoorsitter JG van den Berg is die bane in die vroeë jare 2000 laas herseël. “Die rede hoekom ons dit doen is om tennis weer as familiesport in die dorp te vestig,” het JG gesê.

Dinsdag is daar begin met die herseël van die eerste drie bane. Dit behels dat elke baan totaal herseël word met ‘n dubbellaag mengsel van grond en sand. Wanneer die mengsel droog is, word die speelvlak gegooi. “Dan moet die baan vir twee weke rus,” het JG gesê.

Die rede waarom daar begin word met net drie bane, is om aan spelers die geleentheid te gee om steeds voort te gaan met hul spel. “Dit gee die afrigter kans om aan te gaan met klasse,” het JG gesê.

As alles goed verloop, sal klublede en afrigters oor sowat twee weke oorskuif na die nuwe bane, waarna daar begin sal word om die laaste drie bane te herseël. “Ons verwag dat alles oor so ‘n maand en ‘n half van nou af voltooi sal wees,” het JG gesê.

JG het gesê dat hulle darem bietjie spaargeld gehad het om die werk te doen, aangesien hulle die afgelope jaar hard gewerk het om geld in te samel en hul lidmaatskap uit te brei. Die herseël is uit eie fondse gefinansier, hoofsaaklik te danke aan die bydraes van klublede en buite instansies. Van die groter donateurs het ingesluit Marius Schutte, Irma Maree en PSG Konsult. “Ons moet vir almal, al die klublede en skenkers van buite, bedank vir al die bydraes en fisiese hulp. Almal het ingespring om te help,” het JG gesê.

Tans spog die klub met net meer as 60 lede. Dit sluit spelers van alle ouderdomme in. Die klub het ook drie afrigters wat voornemende en bestaande spelers kan help met hul spel. Lindsay Viljoen rig die beginners en middelvlak spelers af, terwyl Craig Viljoen en Tobie Lochner die middelvlak en gevorderde spelers afrig. “Mense is welkom om die afrigters te skakel indien hulle graag wil begin speel,” het JG gesê. Lindsay kan geskakel word by tel. 072 220 5709, Craig by 082 509 2386 en Tobie by 083 708 9292.

“As mense meer wil weet oor die klub se aktiwiteite, is hulle welkom om my te skakel of ons ondervoorsitter, Henk Beukes,” het JG gesê. Sy nommer is 082 607 7893, terwyl Henk by 071 511 7204 bereik kan word.

 
 
 

Viewed: 902

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT