ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hoërskool Louis Trichardt se Witleeus, oftewel die skool se eerste rugbyspan, lig die beker omhoog as provinsiale wenners van Afdeling 3 van die Virseker-liga, nadat hulle Saterdag Hoërskool Heuwelkruin oortuigend 36-15 geklop het. Die span sal eerskomende Saterdag na Fochville reis vir die eerste van vier interprovinsiale uitspeelwedstryde. Foto verskaf.

Witleeus kraai koning in finaal

Date: 27 July 2018 By: Andries van Zyl

Die vreugdevure het Saterdagaand hoog gebrand, nadat die eerste rugbyspan van Hoërskool Louis Trichardt, oftewel die Witleeus, as provinsiale wenners van die Virseker-liga vir skole in Afdeling 3 uit die stryd getree het.

Triegies se Witleeus het Saterdag in die finaal van die Limpopo ronde te staan gekom teen Hoërskool Heuwelkruin op Tom Naudé se velde in Polokwane. “Die wedstryd was baie spannend en het teen ‘n hoë tempo begin,” het afrigter Armand Stander gesê.

Heuwelkruin was eerste om hul rekening op die telbord oop te maak met ‘n suksesvolle skepskop. “Daarna was daar egter geen keer aan Louis Trichardt gewees nie. Ons het die skepskop opgevolg met ‘n vinnige twee drieë,” het Stander gesê.

Met halftyd was die Witleeus ‘n kortkop voor op die telbord, maar dit was in die tweede helfte wat Triegies behoorlik die krane oopgedraai het. “Die seuns het hulle harte uitgespeel en gemaak dat ons deurgedruk het met ‘n eindtelling van 36-15,” het Stander gesê. Die Witleeus se losskakel, Divan van Zyl, is ook aangewys as speler van die wedstryd.

“Elke kind het meer as sy deel gedoen om ‘n oorwinning te bewerk. Elke seun is ‘n yster, en uit die aard van die saak is ons baie trots op hulle. So ‘n oorwinning is ‘n samebindende faktor,” het skoolhoof Louis Cilliers ná afloop van die wedstryd gesê.

Hoërskool Louis Trichardt se Witleeus het in Afdeling 3 van die liga deelgeneem, met deelname wat bepaal word op die sterkte van die skool se rugbyspanne. Ander skole teen wie die Witleeus in die liga te staan gekom het, was hoërskole Frans du Toit van Phalaborwa, Warmbad, Nylstroom, Eric Louw van Musina en Stanford Lake Kollege.

As wenners van die Limpopo-liga sal die Witleeus eerskomende Saterdag in hul eerste interprovinsiale uitdunwedstryd van die liga te staan kom teen die “ander” Leeus van Hoërskool Fochville in Noordwes op hulle opponente se tuisveld. Die wedstryd skop om 12:00 af. Dit sal opgevolg word met ‘n kwarteindronde, semifinale- en finale wedstryd.

As naaswenners dring Heuwelkruin ook deur na die interprovinsiale uitdunne en sal hulle die naweek teen Mpumalanga kragte meet. Vanaf Louis Trichardt se buurdorp Musina het Hoërskool Eric Louw se o.15-span ook skitterend vertoon deur as naaswenners in hul ouderdomsgroep te eindig. Dié spannetjie sal eerskomende Saterdag, 28 Julie, op hul tuisveld deelneem aan die eerste uitdunronde van die provinsiale Virseker-liga. Die wedstryd skop om 10:00 af op die Louwtjies se A-veld.

 
 
 

Viewed: 448

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT