ADVERTISEMENT:

 

 
 

Phillip Apea-Adu van Hoërskool Louis Trichardt is wel nog net o.18, maar hy het reeds die oog gevang van die Goue Leeus. 

Phillip brul een van die dae vir die Goue Leeus

Date: 18 June 2018 By: Isabel Venter

Binnekort sal daar ‘n Triegie-leeu brul in die Goue Leeus-span.

Philip Apea-Adu (o.18) van Hoërskool Louis Trichardt is vanaf 2019 uitgekontrakteer aan die o.19-span van die Emirates Lions. Hy het in Mei ‘n kontrak geteken met dié gewilde klub, wat al in die Currie Beker, Vodacom- en Super Rugbyreeks deelgeneem het.

Twee ander bekende rugbyspanne het ook vir Philip kontrakte aangebied. Dit was op die einde van die dag, sê Philip, ‘n persoonlike keuse wat hy gemaak het om die Goue Leeus se aanbod te aanvaar.

Volgens Philip se huidige afrigter by Hoërskool Louis Trichardt, mnr. Armand Stander, is dit geen verrassing dat daar soveel belangstelling in Philip is nie. Philip, het Armand gesê, is ‘n uitstekende speler wat die span deur voorbeeld lei. “Hy het hard gewerk om hier te kom en verdien absoluut om gekies te word,” het Armand gesê.

Buiten vir sy talent op die rugbyveld is Philip ‘n natuurlike atleet. Hy het Triegies al op ‘n provinsiale én nasionale vlak verteenwoordig in krieket en atletiek. Van sy loopbaanhoogtepunte sluit in sy opname in die Titans-krieketspan in 2017. In 2015 het hy ook vir die Titans se o.16-span gespeel.

Net soos verlede jaar, is Philip ook hierdie jaar deur die Suid-Afrikaanse Rugbyunie gekies om deel te wees van hul Elite o.18-oefengroep. Hy sal ook later vanjaar in dié ouderdomskategorie deelneem aan die jaarlikse Cravenweek. Verlede jaar, toe hy in die o.17-span was, het Philip weggestap met ‘n Man van die Wedstryd-titel.

Opgewonde oor die toekoms is Philip beslis, maar vir eers moet hy nog dink aan skoolwerk.

Philip is tans in sy matriekjaar en werk hard om sy skoolwerk te balanseer met ‘n besige oefenprogram. “Daar is ‘n sekere vlak van fiksheid wat mens moet behou voor en ná die rugbyseisoen,” het Philip verduidelik.

As Philip nie aan die oefen is nie, is hy besig met ekstra lesse en huiswerk. Sy plan, het Philip gesê, is ook om volgende jaar verder te studeer. Hy hoop om by die Universiteit van Johannesburg B.Com rekenkundige wetenskappe te studeer.

Sonder sy familie se ondersteuning, sê Philip, sou niks van hierdie drome vir hom kon waar word nie. “Ek is ongelooflik dankbaar teenoor my ouers vir hulle ondersteuning,” het Philip gesê. Hy het ook sy dank uitgespreek teenoor Armand. “Hy hou my altyd gemotiveerd,” het Philip gesê.

Sy raad aan die jonger geslag?

“Doen dit waarvoor jy lief is voluit, en as dit ‘n droom is wat die moeite werd is, moet jy hard bly werk om dit te bewaarheid.”

 
 
 

Viewed: 680

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

Phillip Apea-Adu van Hoërskool Louis Trichardt is wel nog net o.18, maar hy het reeds die oog gevang van die Goue Leeus. 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT