ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die eerste item waaraan Le Roux moes deelneem was ook die moeilikste vir hom. Hy kon net nie daarin slaag om die gewig van 270 kg in die kar deadlift te lig nie. Foto verskaf.

Nog ‘n wen vir sterkman Leon op sy kerfstok

Date: 13 April 2018 By: Andries van Zyl

Plaaslike sterkman Leon le Roux het Saterdag, 7 April, weer bietjie “gewigte” gaan rondgooi tydens sy deelname aan ‘n sterkmankompetisie by Clearwater Mazda in Roodepoort.

Die 45-jarige sersant-majoor van Lugmagbasis Makhado buite Louis Trichardt het egter nie net deelgeneem nie, hy het ook presteer.

Die kompetisie, aangebied deur die African Strongman Union, het ook gedien as kwalifiserende rondte vir die jaarlikse Arnold Classic Africa sterkmankompetisie vanaf 18 tot 20 Mei in die Sandton Konferensiesentrum.

Le Roux het deelgeneem in die onder 105 kg meesters-afdeling. “Tussen agt atlete het ek algeheel vierde geëindig en eerste in my klas,” het Le Roux Woensdag aan die Zoutpansberger gesê.

Soos gewoonlik was die kompetisie nie kinderspeletjies nie. “Ons het begin met die kar deadlift wat 270 kg was. Ek kon dit nie lig nie,” het Le Roux gesê.

Dinge het egter daarna heelwat beter verloop vir Le Roux. “Daarna was die yoke van 375 kg en ek eindig eerste. Toe was dit die fronthold van 130 kg om te kyk hoe lank jy kan vashou met een hand om jou greep te toets. Ek het 51 sekondes gestaan wat eerste in my groep was,” het Le Roux gesê.

Volgens op die “spyskaart” was ‘n 340 kg buiteband wat Le Roux vyf keer gat-oor-kop moes flip, waarna hy ‘n 110 kg sandsak teen tyd oor 20 meter moes dra. “My tyd was die beste en ek wen die item,” het Le Roux gesê.

Le Roux het so goed presteer dat dit hom weer ‘n eerste plek in sy klas besorg het. Van sy tye was so goed, dat hy selfs outjies in die ope klas uitgestof het. Die beste nuus vir hom is egter dat hy gekwalifiseer het vir deelname aan die Arnold Classic Africa in Mei. “Ek sien uit na die kompetisie omdat dit ‘n internasionale kompetisie is en ek wil sien hoe ons teen die res van Afrika kompeteer,” het Le Roux gesê.

Le Roux het na afloop van die naweek se kompetisie sy dank uitgespreek teenoor almal wat hom so getrou ondersteun, veral sy vrou. “My vrou Marihan is my grootste fan en haar ondersteuning en bystand in my sport is awesome. Sy is ʼn ware steunpilaar,” het Le Roux gesê.

 
 
 

Viewed: 517

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Plaaslike sterkman Leon le Roux (middel) het die afgelope naweek, na afloop van ‘n sterkmankompetisie in Roodepoort, gekwalifiseer vir deelname aan die Arnold Classic Africa-kompetisie in Mei vanjaar deur sy klas Saterdag te wen. Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT