ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die span van Ons Tuiste het verlede Donderdag as algehele wenners van die Louis Trichardt Rolbalklub se besigheidsliga uit die stryd getree. Die span het bestaan uit Jaco Esterhuizen (senior en junior), Ankia Engelbrecht en Lossie Esterhuizen. Voor, van links na regs, staan Ankia, Kittie de Bruin (president van die Louis Trichardt Rolbaklub) en Lossie. Agter staan Jaco junior en senior.

Ons Tuiste vermorsel kompetisie om eerste plek te vat

Date: 24 November 2017 By: Andries van Zyl

Die NG Kerk Soutpansberg se Deadly Deacons-span en die Gereformeerde Kerk se Dopperspan sou hulself dalk as die gunstelinge geag het om weg te stap met ‘n wen in die finaal van die Louis Trichardt Rolbalklub se besigheidsliga, maar ‘n wen was nie een van hulle beskore nie.

Tien spanne het mekaar verlede Donderdag in die derde en laaste wedstryde van die liga gepak. Die Deadly Deacons en Doppers het die finaal ingegaan, beide met vier punte vir twee oorwinnings op die telbord en ‘n punteverskil van +15 elk. In die derde plek was die span van Ons Tuiste, ook met vier punte maar met ‘n punteverskil van +14.

Reeds vroeg die aand het die vier top spanne gewys hulle bedoel besigheid. Die Deadly Deacons moes verwoed speel om ‘n voorsprong te probeer hou en het die Doppers naelskraaps geklop. Ons Tuiste se span het gekook en gemaklik hul opponente, die Sewing Centre-span, die loef afgesteek. Die span van Bridge Auto het op hulle beurt vir ‘n opskudding gesorg deur as “buiteperd” die hele punteleer omver te kom krap met ook hulle redelik gemaklike oorwinning oor die span van Sheldon & Prinsloo.

Ons Tuiste se wen die aand het hulle in die eerste plek ingeskiet met ses punte en ‘n ongelooflik punteverskil van +27 punte teen hul opponente. Die Deadly Deacons moes vir die tweede agtereenvolgende keer tevrede wees met ‘n tweede plek, ook met ses punte, maar met ‘n punteverskil van +17.

Soos genoem sorg die span van Bridge vir ‘n opskudding deur redelik gemaklik met hul opponente af te reken. Hulle het die Doppers (die vorige ligawenners in Maart vanjaar) se kans vir ‘n Top 3 posisie verpletter deur met net een verloor agter hulle naam, op ‘n totaal van vier punte en ‘n punteverskil van +21, te eindig.

Die Doppers het hard baklei, maar moes tevrede wees met die vierde plek met ‘n telling van vier punte en ‘n punteverskil van +13. Vyfde plek het gegaan aan die span van KB Struktureel (drie punte en -5 punteverskil), met die Warriors sesde (drie punte en -9 punteverskil), Beefridge sewende (twee punte en 0 punteverskil), Sheldon & Prinsloo (twee punte met -20 punteverskil), ZCP Konsultante negende (geen punte en -18 punteverskil) en Sewing Centre tiende (geen punte en -28 punteverskil).

Die Deadly Deacons en Doppers het nou wel nie die liga gewen nie, maar hulle is darem aangewys as die spanne met die beste spangees. Sewing Centre stap weg met die trofee vir beste verloorders, terwyl die span van Beefridge aangewys is as die besgeklede span.

Kittie de Bruin, president van die Louis Trichardt Rolbalklub, het ná afloop van die liga haar dank uitgespreek teenoor al die borge en deelnemers wat ‘n bydrae tot die klub se fondse en sukses van die liga gelewer het. “Dankie aan die Zoutpansberger vir al die nuusberigte. Ons bied Februarie 2018 weer die reeks aan en almal is welkom om in te skryf,” het De Bruin gesê.

 
 
 

Viewed: 712

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Die Deadly Deacons-span van die NG Kerk Soutpansberg is in die finaal van die Louis Trichardt Rolbalklub se besigheidsliga uit die eerste posisie geboender en moes vir die tweede keer in die liga met ‘n tweede plek tevrede wees. Hulle is ook saam met die Dopperspan aangewys as die span met die beste gees in die liga. Van links na regs staan spanlede Heine de Jager, Kittie de Bruin (president van die Louis Trichardt Rolbalklub), Leonie de Jager, Andries van Zyl en Carel Volschenk.

Die Beefridge-span is ná afloop van die finaal van die Louis Trichardt Rolbalklub se besigheidsliga aangewys as die besgeklede span. Hulle het algeheel sewende geëindig uit 10 spanne in die liga. Van links na regs staan Ferdie Viviers, Louis Jordaan, Kittie de Bruin (presidents van die Louis Trichardt Rolbalklub), Phillip Potgieter en Renier Fourie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT