ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike ryers sweet by Magoebaskloof Classic

Date: 10 November 2017 By: Andries van Zyl

Heelwat van die streek se bergfietsryers het Saterdag die uitdagende Magoebaskloof Classic oor afstande van onderskeidelik 20 km, 40 km en 80 km aangedurf.

Net drie plaaslike fietsryer het kans gesien vir die uiters uitdagende 80 km-wedren. Hier was Hoërskool Louis Trichardt se Marno van Zyl die eerste plaaslike ryer tuis in ‘n algehele 17de plek uit 42 in ‘n tyd van 04:20:19 (5de Elite man). In die 18de posisie was die jong Casper Venter in 04:21:57 (1ste seuns O/16) met pa Casper senior in die 19de plek (4de meester man) in 04:22:44).

Heelwat meer plaaslike ryers het kans gesien vir die korter 40 km-wedren, alhoewel dit ook uiters uitdagend was. Weer was dit die jongelinge van Hoërskool Louis Trichardt wat die top podiumplekke oorheers het. Uit die 150 deelnemers wat klaargemaak het, was Hoërskool Louis Trichardt se Richard Lambert algeheel tweede in ‘n tyd van 01:56:44. Hy was ook die tweede junior man tuis. Spanmaat Rohan Cronjé het ook weer ‘n goeie wedren gehad en algeheel derde geëindig in ‘n tyd van 02:02:58. Cronjé het ook ‘n eerste plek in die seuns O/16-afdeling ingepalm. Agste tuis was nog ‘n Triegie, Roan le Roux, in ‘n tyd van 02:08:48. Hy was derde in die seuns O/16-afdeling. Triegies se Rofhiwa Kutama het ook sy beste wedren tot op hede gery en algeheel 12de in 02:13:44 (5de seuns O/16) geëindig.

Louis Trichardt se Jandré van Jaarsveldt was algeheel 29ste in die 40 km (8ste Elite man) in 02:24:39. Kort op sy hakke was Hoërskool Louis Trichardt se Christelle Coetzer in die 33ste plek in 02:26:19. Dit het ook aan haar ‘n derde plek besorg in die meisies O/16-afdeling). Spanmaat Jennavieve Truter was die volgende Triegie-meisie tuis, in die 56ste plek in 02:37:06 (4de meisies O/16). Douglas Archer was algeheel 71ste in 02:51:25 (13de Elite man), met Louis Trichardt se Flippie Greyling wat 74ste klaargemaak het in 02:53:24 (14de veteraan man). Jaco Oberholzer was die 16de veteraanman tuis in ‘n algehele 78ste posisie in ‘n tyd van 02:58:19.

Louis Trichardt se Jernay McLoed het algeheel 90ste klaargemaak in die 40 km-wedren in 03:02:11, wat aan haar ‘n eerste plek besorg het in die vroue meestersafdeling. Mark Archer was 100ste in ‘n tyd van 03:10:47 (23ste veteraan man), terwyl Michelle Greyling as agste veteraan vrou klaargemaak het in ‘n algehele 113de plek in 03:15:05. Die dorp se bekende Stanley Thompson was die 29ste mansveteraan tuis in die 123ste plek in ‘n tyd van 03:29:00. Vroulief Andra Thompson het bietjie meer as 10 minute later klaargemaak in 03:41:05 en was die derde meestersvrou oor die wenstreep.

Soos gewoonlik het die jongspan van Laerskool Louis Trichardt se fietsryspan aan die 20 km-wedren deelgeneem. Hier was Shaun de Beer die eerste plaaslike ryer tuis in ‘n algehele sewende plek uit 133 ryers in ‘n tyd van 01:01:23. Hy was ook die vyfde sub-junior seun. Trevor de Beer was die 14de ryer tuis (agste sub-junior seun) in 01:03:45, met Hoërskool Louis Trichardt se Eliz-Mari Pretorius 16de in 01:03:47. Sy het egter ‘n podium plek ingeneem as derde sub-junior meisie. Spanmaat Annika Kotze was algeheel 36ste in ‘n tyd van 01:13:25 en sesde sub-junior meisie.

 
 
 

Viewed: 400

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT