ADVERTISEMENT:

 

 
 

Hoërskool Louis Trichardt se bergfietsspan is Limpopo se top skolespan.

Triegies onoorwonne in Lim-liga

Date: 22 September 2017 By: Isabel Venter

Die speke het gesing soos wat Hoërskool Louis Trichardt se ryers Saterdag hul bergfietse die praatwerk laat doen het tydens die laaste rondte van die Spur XCO-bergfietsliga.

Vir die tweede agtereenvolgende jaar het Triegies geseëvier in die provinsiale bergfietsliga en op die koop toe ook nog hulle tuisliga, die Tour de Lip, gewen. Dit beteken dat die skool nou kan begin voorberei vir die nasionale kampioenskappe wat vanaf 8 en 9 Oktober by Hoërskool Bekker (Magaliesburg) aangebied sal word.

Triegies het Saterdag se Tour de Lip vol vertroue aangepak met ‘n stewige voorsprong op die punteleer. Die skool het reeds die harde werk gedoen deur al die vorige bepalings, naamlik die Tour de Plaas (Tzaneen), Tour de Nyl (Modimolle) en Tour de Lake (Stanford).  Hoërskool Louis Trichardt is die algehele wenskool in Limpopo, gevolg deur Stanford Lake College tweede en Hoërskool Merensky in die derde plek.

Saterdag se wedren het aan baie van die ryers ‘n kans gegee om hulle laaste punte te maak om te kwalifiseer vir individuele deelname aan die nasionale kampioenskappe en om hul provinsiale erekleure te ontvang. Vanjaar se baan is ook aangepas met van die ou tegniese punte soos die “rotstuin” wat nie deel gevorm het van die reisies nie. Die berugte “Heart Break Hill” (die BULT by die wenstreep) het egter steeds gesorg vir ‘n uitdagende baan vir die ryers.

Een van die wedren se grootste seges was in die meisies Youth-afdeling, waarin Triegies se Christelle Coetzer haar alles gegee het om haar teenstander Ani Gutiérrez (Standford Lake College) te klop. Gutiérrez was, in daardie stadium, die onoorwonne kampioen in die reeks en het ook weggespring as die provinsiale voorloper. Alle aanduidings was dat sy Saterdag weer eerste sou staan op die podium.

Die resies was van meet af ‘n titaniese stryd tussen die twee, met net ‘n sekonde verskil wat Coetzer die eerste plek besorg het. Coetzer het die pas aangegee in die eerste rondte en dit gewen. Gutiérrez was egter kort op haar hakke en het die tweede rondte gewen. In die finale rondte was Coetzer kort op Gutiérrez se hakke. Coetzer het aan die onderkant van “Heart Break Hill”, kort voor die eindstreep, haar aanslag geloods en naelskraaps vir Gutiérrez oor die wenstreep geklop. Coetzer maak klaar in 58:23.8 met Gutiérrez in die tweede plek in 58:24.9. Lara Dando was derde in 01:03:15.2.

In die Youth-seunsafdeling maak Roan le Roux algeheel derde klaar in ‘n tyd van 54:52.9.

Nog ‘n Triegie wat geskitter het, was Richard Lambert. Hy het Saterdag as onoorwonne kampioen in die junior mans-afdeling uit die stryd getree. Hy het sy vier rondtes in 01:08:17 voltooi. Sy naaste teenstander in die liga, Matt Wilkinson van Standford Lake College, was tweede in 01:08:46.1, gevolg deur Hoërskool Merensky se Sheldon Mulder in die derde plek in 01:15:16.2.

Ander Triegie-ryers wat  Top-10-plekke in die wedren behaal het was Annika Kotze, Joleen de Swardt, Anicka Nel, De Wet du Toit, Calvin Lee, Rohan Cronjé, Karla “Vossie” van Zyl, Jennavieve Truter, Leandri de Jager, Mekayla Geyer, Ditau Mandobe, Heine de Jager en Turner de Swardt.

Sewe van Triegies se ryers het ook ná afloop van Saterdag se wedren hul provinsiale kleure ontvang. Hulle was Lambert, Truter, Coetzer, Le Roux, Pretorius, Cronjé en Du Toit.  

Laerskool Louis Trichardt se bergfietsspannetjie spog ook met twee van hul eie Limpopo ryers, naamlik Brendan Bruce en Michelle Steyn. Al twee van hulle het ook Saterdag baie goed gery. Steyn het die afdeling vir sub-junior meisies in die laerskole afdeling gewen, terwyl Bruce ‘n derde plek behaal het in die Nippers-afdeling vir seuns.

 
 
 

Viewed: 1938

 

 
 

Isabel Venter

Isabel joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in 2009 as a reporter. She holds a BA Degree in Communication Sciences from the University of South Africa. Her beat is mainly crime and court reporting.

 
 

More photos... 

In 'n naelbyt-einde het Christelle Coetzer (regs) met 'n uithalerpoging daarin kon slaag om vir Ani Gutiérrez verby te steek en die eerste plek in te palm. Foto: Hoërskool Louis Trichardt.

Christelle Coetzer van Hoërskool Louis Trichardt het vir 'n opskudding gesorg in die afdeling vir Youth-meisies tydens Saterdag se Tour de Lip in Hanglip.

Richard Lambert, die onoorwonne voorloper en kampioen van die Limpopo Spur Skole XCO-bergfietsliga, seil gemaklik oor 'n spronghindernis tydens Saterdag se wedren in die Hanglip Plantasie.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT