ADVERTISEMENT:

 

 
 

Alana Tröger het die trofee gewen as Beste Doelwagter.

Limpopo se hokkiedames verwerf silwer

Date: 30 July 2017 By: Anton van Zyl

Limpopo se dameshokkiespan het vriend en vyand verras deur algeheel tweede te eindig tydens die pas afgelope Suid-Afrikaanse Plattelandse Kampioenskappe.

Twee plaaslike hokkiespelers, Minette Louw en Zelda van Rooyen, het deel gevorm van die span wat gedurende die skoolvakansie na Paarl gereis het om mee te ding teen 10 spanne van regoor die land.

Vroeg reeds het Limpopo gewys dat hulle dié jaar ’n span gaan wees om mee rekening te hou toe hulle Maandag, 10 Julie die KZN Inlands span met 3 doele teen 2 geklop het.  Dit is opgevolg met ‘n 2-0 wen oor die KZN Coastals span die volgende dag, en Woensdag het ’n naelbytoorwinning teen die WP Rockets gevolg. Die wendoel is letterlik in die laaste 10 sekondes van die wedstryd deur Minette Louw aangeteken.

Ten spyte van ’n 0-2 verloor teen die Oostelike Provinsie span die Donderdag, kon die dames nog steeds bo in hulle afdeling eindig.

Op Vrydag, 14 Julie, het die Limpopo dames teen KZN Northerns te staan gekom in die halfeindstryd van die toernooi. ‘n Oorwinning in dié wedstryd het aan hulle ’n plek in die finaal verseker.

Saterdag het die dames van die Westelike Provinsie gewys dat hulle beter voorbereid is vir die koue, nat Bolandse weer, en het net-net gewen met ‘n finale telling van 2-1, wat beteken het dat die Limpopo dames met ‘n silwer medalje tevrede moes wees.  Die span was egter heel tevrede daarmee, aangesien dit die eerste keer ooit in die geskiedenis van Limpopo Senior Dameshokkie is dat hulle die voorreg kon geniet om in ’n finaal te speel.  Hulle het wel in 2012 ’n brons medalje gekry.

Vyf van Limpopo se dames is ook gekies vir die SACD (SA Country Districts) spanne wat aan die Inter-provinsiale toernooi in April 2018 gaan deelneem.  Alana Tröger en Monique Scheepers is in die SACD A-span opgeneem, en Andri van Heerden, Ashley van Schalkwyk en Tashka Wilkinson is deel van die SACD B-span.

Alana Tröger het ook die trofee gewen as Beste Doelwagter – 2017 en Monique Scheepers het spesiale vermelding gekry vir haar doele aangeteken tydens die toernooi.

Die dames wil eerstens die afrigter, Andries van der Merwe, bedank vir die rol wat hy gespeel het in die dames se sukses, en hul wil ook tydens die geleentheid al die borge bedank vir hulle bydrae.  Daar was bydraes vir die span, maar grotendeels het die gemeenskappe hulle harte en beursies oopgemaak om die spelers finansieel te ondersteun, en dit word werklik opreg waardeer.

 
 
 

Viewed: 488

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

Die Limpopo Dameshokkiespan wat silwer verower het tydens die SA Plattelandse Kampioenskappe wat in die Paarl gehou is.

Minette Louw (links) en Zelda van Rooyen (regs), twee plaaslike spelers, het deel gevorm van die Limpopospan.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT