ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die NG Kerk Levubu se jaarlikse Baber en Karp Bonanza het vanjaar ‘n rekordgetal inskrywings gelok, bestaande uit beide boot- en oewerhengelaars. Afgeneem is van die boothengelaars, sommige wat reeds angstig op hul bote wag, kort voor die begin van die kompetisie Saterdag. Foto verskaf.

Baber en Karp Bonanza lok rekordgetal hengelaars

Date: 06 May 2017 By: Andries van Zyl

Met R51 000 se prysgeld op die spel en die kans om ook ‘n splinternuwe Datsun Go ter waarde van R130 000 te wen, was dit geen verassing dat die NG Kerk Levubu se jaarlikse Baber en Karp Bonanza vanjaar ‘n rekordgetal inskrywings gelok het nie.

“Sedert die kompetisie die eerste keer in 2013 aangebied is, was dit die grootste opkoms ooit gewees,” het ‘n tevrede ds. Petrus Kriel, gemeenteleraar, gesê.

Hengelaars vanoor die hele provinsie het die afgelope naweek die koue en soms baie nat toestande by die Albasinidam trotseer vir deelname aan die kompetisie. In totaal is 300 kaartjies (R90 000) vir die kompetisie verkoop en het die kampterrein by die Beja-hengeloord uit sy nate gebars.

Die koue en nat weer het egter die hengel maar traag gemaak. “Alhoewel daar nie baie vis uitgekom het nie, was die vis wat wel uitgekom het heelwat groter as vorige jare,” het Kriel gesê.

Buiten vir die baber- en karpkompetisie, was daar ook vanjaar vir die eerste keer geleentheid vir die streek se swartbaarshengelaars om deel te neem. Alhoewel die baber- en karpkompetisie oor twee dae beslis is (vanaf 07:00 Saterdag tot 12:00 Sondag), het die swartbaarskompetisie net van 07:00 tot 17:00 Saterdag gestrek. Anders as die baber- en karpkompetisie, waar die swaartste drie visse van elke spesie prysgeld kon wen, het die prysgeld in die swartbaarskompetsie gegaan aan die swaarste sak.

Pa-en-seun span Raymond en Reynard Pretorius stap in die swartbaarskompetisie weg met die R3 000 eerste prys, met hul sak wat ingeweeg het op 4,077 kg. Stefan Badenhorst se Fear no Fish-span was tweede met ‘n sak van 3,815 kg en vir hulle moeite wen hulle R1 000. Die derde prys, met ‘n sakgewig van 3,217 kg, het gegaan aan Martin Theunissen se Levubu Bulle-span. Hulle het R500 gewen.

Zander van der Walt se allemintige baber van 11,972 kg was vir hom genoeg om die R7 000 eerste prys te verseker in die baber-kompetisie. Craig en Deon (van onbekend) se 6,921 kg het aan hulle die R3 000 tweede prys besorg, terwyl Eben Saayman weggestap het met die R1 000 derde prys met sy 6,515 kg baber.

Wat die “papgooiers” betref, het Willem du Plooy die R3 000 eersteprys in met sy 6,590 kg karp ingepalm. Gideon (van onbekend) was tweede met sy 4,096 kg karp en is met R1 000 beloon. Die R500 derde prys het aan M. Masud gegaan met sy 4,741 kg karp.

Nog ‘n nuwigheid by vanjaar se kompetisie was dat almal wat ‘n kaartjie gekoop het, ongeag of hulle gehengel het of nie, die kans gestaan het om R25 000 te wen in ‘n gelukkige trekking. Hier was dit Safeera Mahomed (Bobby van Cycle Centre se vrou) wat met die louere weggestap het. Die Datsun Go is egter veilig, nadat niemand die gemerkte baber kon land wat aan hulle die kar sou besorg nie.

Kriel het met groot lof gepraat van die kompetisie se nuwe organiseerders, Carel Pretorius en Christo Theunissen, vir die goeie organisasie van die kompetisie. Hulle het baie nuwe veranderinge aan die kompetisie aangebring, soos deur vooraf kaartjies te verkoop vir die R25 000-trekking. Hulle het ook die area vir oewerhengelaars vanjaar afgesper, sodat boothengelaars hulle nie tydens die kompetisie kon pla nie. “Hierdie kompetisie is nou ‘n vaste instelling in die Soutpansberg en die prysgeld maak dit een van die geleenthede wat vissermanne beslis sal aanteken op hul kalender,” het Kriel gesê.

Die NG Kerk Levubu-gemeente het ná afloop van die kompetisie hul groot waardering uitgespreek teenoor die borge van die kompetisie, naamlik BB Mount Fuji, ZC Pretorius en Talisman.

(Kriel het deelnemers daaraan herinner dat foto’s van die naweek op die kerk se webblad by www.ngkerklevubu.co.za beskikbaar sal wees. Klik op die Facebook-skakel)

 
 
 

Viewed: 807

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

‘n Jong hengelaar lê met groot afwagting en wag vir die begin van die NG Kerk Levubu-gemeente se jaarlikse Baber en Karp Bonanza by die Beja-hengeloord die afgelope naweek. Foto verskaf.

Organiseerder Carel Pretorius (links voor) oorhandig die R7 000 eerste prys vir die grootste baber (11,972 kg) aan wenner Zander van der Walt (regs voor). Agter, van links na regs, is organiseerder Christo Theunissen en mede-hengelaars Francois Mostert en MJ Erasmus. Foto verskaf.

Pa-en-seun span Raymond en Reynard Pretorius stap in die swartbaarskompetisie weg met die R3 000 eerste prys met hul sak wat ingeweeg het op 4,077 kg. Van links na regs staan organiseerders Carel Pretorius, Christo Theunissen, Reynard en Raymond. Foto verskaf.

Die wenner van die R3 000 eerste prys vir die grootste karp, Willem du Plooy (regs), ontvang sy prys van organiseerders Carel Pretorius (links) en Christo Theunissen (middel). Foto verskaf.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT