ADVERTISEMENT:

 

 
 

CP van Wyk (links) en sy spanmaat, Charl-Pierre Esterhuyse op die podium na afloop van die Absa Cape Epic.

CP lewer skittervertoning by Cape Epic

Date: 02 April 2017 By: Anton van Zyl

Oud-Triegie CP van Wyk en sy spanmaat, Charl-Pierre Esterhuyse, het Sondag skitterend teruggeveg in die Absa Cape Epic en 12de geëindig in die sewende skof van dié moordende bergfietsresies. Die laaste dag se vertoning het aan hulle ‘n algehele Top-50 posisie besorg in sekerlik die grootste bergfietsresies ter wêreld.

Die Cape Epic het vanjaar weer al die bekende name in bergfietsgeledere vanoor die wêreld gelok. Die deelnemers het topjaers soos Nino Schurter en Christoph Sauser ingesluit. Schurter, ‘n Switserse fietsryer, is die huidige XCO wêreldkampioen en wenner van die goue medalje by die Olimpiese Spele in 2016. Sy spanmaat was Matthia Stirnemann, ook ‘n Switserse jaer, wat vyfde op die wêreldranglys lê. Christoph Sauser is ‘n ervare jaer wat al tien UCI Wêreldkampioenskappe gewen het en vyf keer die goue medalje in die Cape Epic ontvang het. Hy het saam met Jaroslav Kulhavy deelgeneem, iemand wat al etlike wêreldkampioenskappe gewen het, asook Olimpiese medaljes. Selfs ‘n voormalige Tour de France kampioen, Cadel Evans, het saam met nog ‘n fietsrylegende, George Hincapie, in die meesters-afdeling deelgeneem.

Die Absa Cape Epic is vanjaar vir die 14de keer aangebied. ‘n Groep van sowat 1 300 jaers het op Sondag, 19 Maart, by die Meerendal Wynlandgoed in die Wes-Kaap weggespring. Die toer het gestrek oor ‘n afstand van 691 kilometer, wat oor agt dae voltooi moes word. Dit het Sondag (26ste) by die Val de Vie Landgoed in die Paarl geëindig. Elke span bestaan uit twee jaers en hulle moet te alle tye binne twee minute van mekaar by punte verbyry.

Vir die 21-jarige CP het die uitnodiging om aan die toer deel te neem, heeltemal as ‘n verrassing gekom. Enkele dae voor die resies sou begin, het hy ‘n oproep van ‘n fietsryvriend, Charl-Pierre, ontvang. Charl-Pierre, wat vir die Breedenet-span ry, het lank probeer om ‘n inskrywing vir die Cape Epic te kry, maar dit wou nie uitwerk nie. Met tien dae oor voor die resies, het ‘n inskrywing oopgegaan toe ‘n span moes onttrek. Charl-Pierre het vinnig gespring, ingeskryf en vir CP gevra of hy sy spanmaat sou wees. CP, wat kort voor dit aan die PEPlett bergfietsresies deelgeneem het, was gereed vir die uitdaging.

Die feit dat die twee spanmaats nie vooraf kon oefen nie, het sy tol later in die resies begin eis. Ná die eerste vier dae was hulle steeds goed geplaas en algeheel 38ste (31ste in hul kategorie). Donderdag (23ste) se Skof 4 het oor ‘n afstand van 112 kilometer gestrek, vanaf Greyton tot by Elgin. Die Breedenet-span het egter baie gesukkel met tegniese probleme en moes lekkende bande regmaak, asook ‘n stukkende wiel herstel. Hulle het uiteindelik 159ste geëindig en teruggesak na die 84ste plek in hul kategorie.

Volgens CP was die vyfde en sesde skofte die ergste. “My krag het begin min raak,” sê hy en die moordende roete het sy tol op beide jaers begin eis. Die vyfde skof het begin en geëindig op Elgin. Die roete (86 km) was dalk korter, maar die fietsryers moes meer as 2 100m klim. CP en Charl-Pierre het 69ste geëindig en opgeskuif na die 45ste plek in hul kategorie. Die volgende dag het dinge egter moeiliker gegaan. Dit was weer ‘n sirkelroete wat by Elgin begin het en die fietsryers oor ‘n moordende 103km geneem het met ‘n klim van 2 750m. Die Breedenet-span het 87ste geëindig in ‘n tyd van 5:49:31. Hulle het na die 58ste plek in hul kategorie afgeskuif.

“Donderdag en Saterdag se skofte was die langste en tweedelangste skofte wat ek nog ooit voltooi het,” het CP vroeër die week tydens ‘n telefoniese onderhoud gesê. CP is ‘n voltydse student by die Universiteit van Stellenbosch en woon tans in die Wes-Kaap.

Sondag het die Breedenet-span se Cape Epic-verhaal egter dramaties verander en die twee CP’s het selfs die top professionele spanne verbaas met hulle skitterende vertoning. Die roete vanaf Oak Valley, Elgin, tot by die Val de Vie Landgoed in die Paarl het oor 85km gestrek en 1 350m se klim ingesluit. Die Breedenet-span het dit in 3:03:37 afgeblits, ‘n bietjie meer as ses minute stadiger as die skofwenners, Michiel van der Heijden en Anri Frischknecht. Hulle het selfs voor die voorste Suid-Afrikaanse fietsryer, Max Knox, geëindig. Knox en sy spanmaat, Hector Leonardo Paez Leon, het algeheel vierde geëindig.

Die Absa Cape Epic is uiteindelik gewen deur Schurter en Stirnemann in 26:35:06. Sauser en Kulhavy was tweede, met Nicola Rohrbach en Daniel Geismayr derde. CP en Charl-Pierre het algeheel 48ste geëindig en 36ste in hul kategorie.

Vir CP en Charl-Pierre is hul prestasie besonders, want nie een van hulle is professionele fietsryers nie. CP studeer en Charl-Pierre werk deeltyds, wat meebring dat hulle nie soveel tyd kan spandeer om te oefen soos die professionele jaers nie. CP het ook nie onmiddellike planne om aan verdere groot byeenkomste vanjaar deel te neem nie. “Ek beplan om in Mei aan die Gravel and Grape-toer oor drie dae in Goudini deel te neem,” het hy gesê.

Die beskeie fietsryer het vroeër jare skitterprestasies in Limpopo gelewer. Gedurende sy skooljare het hy die plaaslike fietsrypodiums oorheers en verskeie rekords opgestel. Hy het ook as voorbeeld gedien vir dosyne jong fietsryers wat besef het dat fietsry as ‘n ernstige en genotvolle sport beoefen kan word. Beide Laerskool Louis Trichardt en Hoërskool Louis Trichardt spog tans met van die grootste fietsryspanne in die provinsie.

Verlede jaar het CP Suid-Afrika verteenwoordig by die Wêreld Universiteite Kampioenskappe wat in die Fillipyne aangebied is. Hy het 6de algeheel geëindig in die padfiets-afdeling. Hy het ook in 2016 aan die FNB Varsity Cup deelgeneem en is as bergfietswenner aangewys.

 
 
 

Viewed: 686

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

CP van Wyk (regs) en Charl-Pierre Esterhuyse afgeneem kort na die laaste skof van die Absa Cape Epic geëindig het.

CP van Wyk (links) en Charl-Pierre Esterhuyse afgeneem kort na die laaste skof van die Absa Cape Epic geëindig het.

CP van Wyk saam met sy pa, André van Wyk, ná die laaste skof van vanjaar se Absa Cape Epic.

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT