ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Gevlekte ooruil, afgeneem deur Pietman Muller. Sy waarnemings van hierdie uile in die Levubu-omgewing het bevestig dat insekte, en nie muise soos baie sekerlik dink nie, 65% van hulle dieet uitmaak.

Waarnemings oor plaaslike gevlekte ooruile verras (Deel 1)

Date: 05 August 2022 By: 

Plaaslike uilkenner Pietman Muller van Levubu is gaande oor uile. Sedert 2009 maak hy elke jaar gedurende die broeiseisoen waarnemings by neste en tans is hy besig met ‘n studie oor die eetgewoontes van gevlekte ooruile. Sy waarnemings het reeds ‘n paar interessanthede opgelewer, naamlik dat slange ‘n groot persentasie van hierdie uile se dieet uitmaak.

Die gevlekte ooruil (Bubo africanus) is die tweede grootste uil in Suid-Afrika en kom regoor die land voor. Hulle benut ‘n wye verskeidenheid van spesies as prooi en tot 60 verskillende prooispesies is al aangeteken. Min is egter bekend oor streeksverskille in hulle eetgewoontes en in 2016 het Muller ‘n artikel in die African Birdlife Magazine gepubliseer wat so ‘n ietsie van hulle dieet hier in die Levubu-omgewing (Soutpansberg) ingesluit het. Een van sy waarnemings was dat slange ‘n groot deel van hulle dieet in dié area uitmaak en dit blyk redelik uniek aan die area te wees. “Ons wil graag verdere navorsing hieroor doen, maar benodig genoeg neste om sinvolle data te kan kry. Ek het die hulp van kenners ingeroep en Lourens Swanepoel van die Universiteit van Venda en Johan Marais (die slangkenner) gaan my help met hierdie studie,” het Muller gesê.

Muller sê dat gevlekte ooruile teen 'n hoë bevolkingsdigtheid regoor Levubu voorkom en dat hy oor jare hulle aktiwiteite by verskeie neste in die area kon fotografeer. “Vir meer as 200 uur het ek hierdie wonderlike voëls in die nag waargeneem en gefotografeer. Hierdie was ‘n ongelooflike ervaring en het my siening oor uile en dit wat ek gedink het ek van uile weet, heeltemal deurmekaargekrap,” sê Muller.

Uit sy waarneming van die neste en die uile se eetgewoontes het Muller gevind dat uile se stapelvoedsel duidelik hier in die Levubu area meestal uit motte en ander insekte sowel as slange bestaan en dat klein soogdiere (wat muise insluit) slegs 'n baie klein deel van hul inname uitmaak. “Van die foto’s wat ek oor die jare geneem het, het ek ontleed en waar die prooi duidelik herkenbaar was, dit geklassifiseer,” sê Muller. Altesaam 187 foto's  is ontleed en dit het die volgende gewys:

 

Wat bogenoemde grafiek betref, het Muller gesê die persentasies word slegs bereken op die aantal prooi items. “As gewig in ag geneem sou word, sou die syfers natuurlik heel anders lyk, maar hulle voorkeure in ons area is nogtans duidelik,” sê Muller. In sy boek Birds of Prey of Southern Africa sê Peter Steyn dat die prooi van gevlekte ooruile hoofsaaklik uit insekte, klein soogdiere en voëls bestaan. In een ontleding van 1076 prooi rekords was 67% insekte, 17% soogdiere en 14.5% voëls, met die klein balans wat bestaan het uit reptiele, amfibieë en vis. ‘n Opsomming van Muller se waarnemings in die Levubu area lyk soos volg:

 

 

“My waarnemings bevestig dan ook dat insekte, met ongeveer 65% van prooi items, hier by ons ook hulle vernaamste teiken is en dus ooreenstem met Steyn se data. Ek het egter baie min soogdiere en geen voëls aangeteken nie. Die feit dat slange tweede op die lys van voorkeure vir Levubu se gevlekte ooruile is, is nogal ietwat van ‘n verrassing en is nie eintlik in ander studies waargeneem nie. 'n Buurman wat ook 'n gevlekte ooruilpaar in sy tuin gehad het, het gesien hoe baie slange na die nes gebring word en my broer het ook een aand een langs die pad gesien  met nogal 'n groot kobra in sy kloue,” sê Muller.

Gevlekte ooruile in die Soutpansberg-omgewing broei vanaf Augustus tot November, met ‘n piek in September en Oktober. “As gevlekte ooruile dus in jou tuin of op jou plaas in die Levubu omgewing broei, en jy is bereid is om te help met hierdie studie, kontak my gerus. Mense uit ander areas wat betrokke wil raak by uilstudies van die ander uilsoorte, veral witwang-, skops-, gebande- en witkoluiltjies kan my gerus ook kontak. Neste moet in die nag toeganklik wees en ek en my toerusting moet veilig wees daar. Hoogtes van vier tot vyf meter is nie ‘n probleem nie,” sê Muller. Hy kan geskakel word by tel 082 853 8771 of stuur ‘n e-pos na [email protected].

Hou volgende week se uitgawe van die Zoutpansberger dop vir die tweede deel oor gevlekte ooruile se eetgewoontes.

 

 
 
 

Viewed: 501

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT