ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Foto van die huis wat die swendelaar aan Marie gestuur het wat haar adres aangee as Heystekstraat 40 in Louis Trichardt. By nadere ondersoek is gevind dat die vrou die “street view” foto van die huis van Google Maps afgetrek het. Die foto is in 2010 geneem. Foto verskaf.

Moenie met hierdie slap rieme gevang word nie

Date: 01 July 2022 By: Andries van Zyl

Te midde van stygende lewenskoste en ‘n swak ekonomie raak mense al meer desperaat om ‘n ekstra geldjie te in; so ook die kriminele. Wat dit betref doen gerugte van ‘n paar slenters weer die ronde.

Een van hierdie slenters is ‘n vrou, ene Janine Cheryl Talotti, wat ‘n duursame, egte leer sitkamerstel op die Tzaneen/Duiwelskloof Snuffelgids groep op Facebook geadverteer het. Dié stel sou blykbaar in Louis Trichardt gewees het. So het dit gekom dat ‘n vrou van Tzaneen lelik gevang is, met haar vriendin van Louis Trichardt wat die Zoutpansberger geskakel het om mense te waarsku. Op versoek van die vriendin word beide haar en haar vriendin se regte name nie in die artikel gebruik nie. Ons noem die vriendin van Louis Trichardt net Frieka en haar vriend in Tzaneen Marie.

“Marie het die vrou geskakel en gesê sy stel belang. Die vrou het toe vir haar gesê daar is baie ander mense wat ook belangstel, so as sy wil hê sy moet die stel vir haar hou, dan moet sy vir haar ‘n R500 deposito betaal,” het Frieka gesê. Janine het ook vir Marie foto’s van die buitekant van haar huis in Louis Trichardt, foto’s van die leer sitkamerstel en ‘n kopié van haar ID gestuur.

“Toe doen my vriendin dit. Sy het die R500 deposito oorbetaal,” sê Frieka.

Marie het toe vir Frieka gevra of sy nie net na die stel wil gaan kyk nie, aangesien die vrou in Louis Trichardt is. Op die foto’s het die stel nog in ‘n goeie toestand gelyk.

Die adres wat Janine opgegee het, was  Heystekstraat 40. “Ek het toe vir Janine geskakel om te hoor of sy by die huis is. Die vrou het egter gesê sy is nie by die huis nie, want haar man se bakkie het gebreek en hy het haar nog nie kom haal nie. Allerhande stories,” het Frieka vertel. Met dié het sy vir Janine gevra om haar te laat weet wanneer sy weer by die huis is, sodat sy na die stel kan gaan kyk.

Dit was ongeveer voorverlede Maandagaand. Die volgende dag het Frieka ook niks van die Janine gehoor nie. “As ek bel, dan antwoord sy nie. Haar foon gaan onmiddellik oor na ‘n stem boodskap. Ek het vir haar ‘n WhatsApp ook gestuur, maar dié het ook nie deurgegaan nie,” het Frieka gesê.

Verlede Donderdagmiddag, so teen 17:00, het Frieka egter besluit sy gaan na die adres toe ry. “Die huis het dolleeg en verlate gestaan, blykbaar vir ‘n geruime tyd al. Maklik al twee of drie jaar. Waar hulle die mooi foto’s van die huis gekry het, weet ek glad nie, maar die huis lyk beslis nie meer so nie. Dit was bouvallig en die vensters was stukkend. Dit was duidelik dat daar al vir baie lank nie meer mense in daardie huis bly nie,” het Frieka gesê. (By verdere ondersoek is gevind dat die foto’s van die huis wat aan Marie gestuur is van Google Maps afgetrek is en terugdateer tot 2010.

“Wat sleg was,” het Frieka vervolg, “was dat Janine weer vir Marie gekontak het en vir haar ook gesê het haar man se bakkie het gebreek. Dit was nou nadat sy dit vir my gesê het. Sy het toe vir Marie gevra of sy nie nog R500 kon oorbetaal nie, aangesien haar man sy beursie en bankkaart in sy kantoor vergeet het. Marie wou weet wat ek daarvan dink? Ek het toe vir haar gesê: ‘Hou verby! Ek ruik ‘n rot!’. Gelukkig het Marie nie nog geld oorbetaal nie,” het Frieka gesê.

“Janine” het daarna geen oproepe geantwoord nie. “Ek dink die vrou het haar misreken. Sy het nie gedink Marie ken iemand in Louis Trichardt wat gaan kyk waar die stel is en hoe dit lyk nie,” het Frieka gesê.

Frieka het gesê sy wonder hoeveel mense die vrou uitgevang het? “Die adres is daar, maar daar bly niemand in die plek nie. Ek weet ook nie waar kom sy aan die foto’s van die stel nie. Ek weet ook nie waar kom sy aan die ID nie? Dalk is dit iemand se ID wat sy gesteel het?” het Frieka gesê. Sy het inwoners gewaarsku om versigtig te wees. “Dit is ‘n goed uitgedinkte slenter! Sulke helle!” het Frieka gesê. In die proses het haar vriendin R500 verloor.

Hierdie was egter nie die enigste slenter wat die afgelope week die ronde gedoen het nie. ‘n Werknemer van ‘n plaaslike bloemiste het die Zoutpansberger ook laat weet dat ‘n man met die naam Jan haar geskakel het om blomme te bestel. Hy het nooit gekom om die blomme te haal of te betaal nie, maar wel gebel en gevra of die werknemer hom nie kan uithelp met lugtyd nie. Gelukkig het die vrou geweier om die lugtyd te koop. Die man het van die nommer 063 117 5005 geskakel. “Hy sê hy is ‘n oom, maar hy klink nie te oud nie. Dalk is daar ander mense wat hy ook probeer uitvang,” het die werknemer gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1616

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT