ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ná ‘n aanvanklike goeie herstel na ‘n breinoperasie om ‘n gat in sy skedel toe te maak, het die 48-jarige Jannie Bouwer (regs) se gesondheid verlede week ‘n terugslag beleef. Saam met hom staan sy pa Jan. Die foto is geneem kort Jannie se operasie op 1 April.

Jannie beleef terugslag na breinoperasie

Date: 20 May 2022 By: Andries van Zyl

Die 48-jarige Jannie Bouwer van Louis Trichardt se gesondheid het verlede week ‘n terugslag beleef, ná die aanvanklike opgewondenheid oor die sukses van ‘n operasie om ‘n gat in sy skedel toe te maak.

Jannie het einde verlede jaar skielik begin siek raak toe ‘n abses gevorm het onder ‘n plaat wat 27 jaar vantevore onder sy kopvel geplaas is om ‘n gapende kopwond te bedek (Die kopwond is veroorsaak tydens ‘n motorongeluk in 1994). Die plaat is in die Unitas Hospitaal in Pretoria verwyder, maar kon nie dadelik vervang word nie, aangesien daar eers gewag moes word vir die infeksie om op te klaar. Op 1 April vanjaar is Jannie terug teater toe, weer in die Unitas Hospitaal, waar ‘n nuwe plaat ingesit is om sy brein te beskerm teen ‘n gat in sy skedel van ongeveer 2,5 cm by 13 cm.

Jannie en sy ouers Jan en Anita was verheug oor die sukses van die operasie en aanvanklike aanduidings was dat die nuwe plaat ‘n leeftyd van tussen 10 en 15 jaar sal hê voordat Jannie weer probleme sal ondervind.

Verlede week het dinge egter begin skeefloop. Jannie se voorkop het skielik begin opswel en Jannie is terug Unitas Hospitaal toe. “Die spesialis het ons ingedruk vir Woensdagmiddag [11 Mei] vieruur. Toe ons daar kom, het hy Jannie net so gekyk en gesê: ‘O, jitte!’” het Jan gesê.

By nadere ondersoek is bevind dat die nuwe plaat ook ‘n abses veroorsaak het. “Die spesialis het Jannie net daar laat opneem en Donderdag is ‘n noodoperasie uitgevoer om die nuwe plaat weer te verwyder,” het Jan gesê.

Jannie en sy ouers is ewe hartseer dat die operasie van 1 April nie gewerk het nie. “Hulle is nog nie baie seker oor wat gebeur het nie, maar Jannie lyk goed en hy het gelukkig nie pyn nie,” het Jan gesê.

Jannie sal nou eers weer etlike maande moet wag voordat dokters weer gaan probeer om die plaat te vervang. “Die spesialis het gesê hulle kyk na so vroeg volgende jaar,” het Jan gesê. Intussen sal Jannie homself baie goed moet oppas, aangesien net sy kopvel nou sal dien as beskerming teen ‘n moontlik breinbesering deur die gat.

“Dit het nou maar gebeur en ons sal dit vandaar af weer vat,” het Jan gesê. Hulle ondersteun vir Jannie waar hulle kan. “Toe ons nou weer moes gaan, was sy gemoedstoestand baie sleg. Hy is al so moeg vir die hospitaal en operasies. Hy het ook geglo dat hulle hom met pille kan regmaak, nie met ‘n operasie nie. Dit was toe nou nie so nie, maar hy het vrede daarmee gemaak,” het Jan gesê. Hy en Anita het inwoners gevra om voorbidding vir Jannie te doen.

 

 
 
 

Viewed: 668

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT