ADVERTISEMENT:

 

 
 

Ettienne Wolmarans (middel) afgeneem saam met ma Monica en Charles Botha tydens die BCVO se glansdinee in die Assupol-gebou in Pretoria. Foto verskaf.

Unieke eer val plaaslike CVO-leerder te beurt

Date: 28 January 2022 By: Pétria de Vaal

Ettienne Wolmarans, ‘n 2021 Graad 12-leerder van die Zoutpansberg CVO-skool (ZCVO) buite Louis Trichardt, was aangenaam verras toe hy ‘n uitnodiging ontvang om die Beweging vir Christelik Volkseie Onderwys (BVCO) se glansdinee by te woon. 

Ettienne was die top presteerder (van alle BCVO-skole) in Wiskunde Geletterdheid met ‘n punt van 93%. Tydens die geleentheid, wat op Vrydagaand, 21 Januarie, in die Assupol-gebou in Pretoria gehou is, het Ettienne die Solidariteit-trofee ontvang.

Charles en Monica Botha het hom na hierdie prestige geleentheid vergesel. Ma Monica vertel trots dat ‘n skouermantel (blou en goud) met hulle aankoms aan hulle oorhandig is. Alle toppresteerders se ouers kon dit vir hulle omhang.

“Benewens ‘n toekenning vir die Graad 12 leerders wat die beste in elke vak presteer het, was daar ook toekennings vir byvoorbeeld Onderwyser van die Jaar en Skool van die Jaar. ZCVO het ook ‘n toekenning ontvang vir ‘n 100% slaagsyfer vir 2021 se matrikulante,” sê Monica. Charles is baie trots op Ettienne se uitmuntende prestasie en sê dat hy agter hom sal staan as hy moontlik verder gaan studeer. “Ek weet hy sal in alles goed vaar en sy beste gee.”  

Ettienne is tans besig met ‘n oorbruggingsjaar en werk by Palm Motors. Ettienne sê dat hy ‘n bietjie later vanjaar oor sy toekomsplanne sal besluit. Vir hom was die okkasie ‘n eerste: “Ek is nie gewoond aan sulke deftige geleenthede nie. Wat my beïndruk het, was almal se vriendelikheid en dat gaste sommer dadelik welkom gevoel het. Dit was vir my ‘n voorreg om met Hannes Noeth van Helpende Hand te gesels, wat aan ons tafel gesit het. Hy het onder meer genoem dat bykans almal wat by Soltech afstudeer (ambagte – die rigting waarin ek ook belangstel), gewaarborg is om by ‘n voltydse werk in te stap,” sê Ettienne.  

Monica vertel dat dit nie die eerste keer is dat Ettienne hulle verras nie. Aan die einde van sy Graad 7 jaar by Laerskool Staats in Kimberley het hy die CR Swart beurs ontvang vir beste presteerder in Ekonomiese en Besigheidstudies, wat sy skoolfonds by ‘n plaaslike hoërskool sou betaal. “Ongelukkig het ons toe weggetrek van Kimberley af,” sê Monica.

Ettienne was slegs vir ‘n jaar in ZCVO. Hy was ‘n tuisskool-skolier. Met die gesin se verhuising vanaf Randfontein na Louis Trichardt het hulle besluit om hom by ZCVO in te skryf vir sy matriekjaar. “Ons kan nie genoeg dankie sê vir die ZCVO-gemeenskap wat ons met ope arms ontvang het nie. Dit was ‘n groot aanpassing vir Ettienne, omdat hy moes oorskakel na die IEB (onafhanklike eksamenraad) se leerplan. Hy moes ‘n nuwe vak, Rekenaartoepassingstegnologie, neem. ‘n Ander vak, Toerisme, moes hy op sy eie doen, aangesien dit nie verlede jaar deur ZCVO aangebied is nie.  Die personeel het egter deurentyd die ekstra myl geloop om vir Ettienne by te staan.  Ons sal dit nooit vergeet nie,” sê Monica. Sy voeg by dat sy graag vir elkeen in die CVO-gemeenskap wil bedank.

 

 
 
 

Viewed: 484

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT