ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die agtjarige Rinhard (links) en Milan Schalkwyk (regs) saam met bekende Suid-Afrikaanse sanger Sonja Herholdt. Foto verskaf.

Plaaslike tweeling pronk in Sonja Herholdt-musiekvideo

Date: 26 November 2021 By: Pétria de Vaal

Die Schalkwyk-tweeling van Louis Trichardt, die agtjarige Rinhard en Milan Schalkwyk (Graad 2-leerders van die Zoutpansberg CVO), het onlangs die voorreg gehad om ‘n musiekvideo saam met sangeres Sonja Herholdt en Tjokker op te neem.

Hulle ma, Anell Schalkwyk, noem dat ‘n vriendin haar gedurende Augustus van ‘n kompetisie vertel het, nl. “Wysneusies.tv” - ‘n unieke kompetisie wat vir kleuters en jong kinders die geleentheid gee om deel te wees van ‘n televisie-opname saam met ‘n beroemde kunstenaar.

“Ons het almal gedurende Juliemaand Covid-19 opgedoen. Vir die tweeling was dit ‘n besonderse moeilike tyd, aangesien familie en vriende rondom ons aan Covid-19 oorlede is. ‘n Mens besef nie watter impak hierdie siekte op kinders het nie,” sê Anell.

Toe die geleentheid hom voordoen om die tweeling vir die kompetisie in te skryf om saam met Sonja-hulle op te tree, het Anell besluit om dit te doen. “Ek het gehoop dat dit die kinders se gemoed sou lig,” sê Anell.

Rinhard en Milan is in die ouderdomsgroep vir sewejariges gekies om op 5 November in die Pierneefteater in Villieria, Pretoria, ‘n opname saam met Sonja en Tjokker te gaan doen vir die liedjie “Oupa en Ouma”. “Ons het vooraf die woorde en musiek van die liedjie ontvang wat die kinders moes inoefen. Op die dag van die opname het Sonja hulle gekies om die ‘hoofrolle’ in die liedjie te vertolk,” vertel Anell. Sy voeg by dat die opname nie voor ‘n gehoor gedoen is nie – slegs die filmspan en ouers was teenwoordig. “Ons kon nie video’s neem nie, maar wel foto’s,” sê Anell.

Sonja Herholdt is reeds sedert die 1970’s ‘n huishoudelike naam in die musiekwêreld – met treffers soos “Ek verlang na jou” en “Jantjie”. Sonja en Tjokker (haar beste “hondjie-pêl”) vermaak sedert 2012 gehore – veral voorskoolse en juniorfase-leerders regoor Suid Afrika.

Anell vertel dat dit só ironies is dat die eerste CD wat sy besit het, een van Sonja Herholdt was – wat sy vir haarself in 1981 gekoop het. “Rinhard en Milan het die deelname aan die vervaardiging van die musiekvideo (wat in volgende jaar beskikbaar sal wees) vreeslik geniet en het sommer skielik baie selfvertroue gekry. Hulle het boonop so ‘n bietjie van die morbiede dinge van die Covid-19 ervarings vergeet,” noem Anell dankbaar.

 

 
 
 

Viewed: 910

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT