ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die gat wat die inbrekers in die heining geknip het op die plaas Grassmoore om toegang tot die slot te kry om ook dié af te knip. Foto verskaf.

Inbrekers bedrywig in Levubu-omgewing

Date: 08 October 2021 By: Karla van Zyl

In die vroeë oggendure van 29 September, omstreeks 03:45, het ses ongeïdentifiseerde mans die plaas Grassmoore betree en beroof - nie die eerste keer dat ‘n plaas onder die vaandel van die Molozi Trust deurloop nie.

Die inwoners van die een huis, Henk Wilders en sy vrou, het die inbrekers betrap toe hulle probeer het om die huis binne te gaan. Die booswigte het daarna na Johnny Craven se huis gegaan en hom wel beroof terwyl hy geslaap het.

Net ná middernag op 30 September het ses misdadigers weer op dieselfde plaas kom pla. Gelukkig kon die sekuriteitsbeamptes vir Johnny, Henk en nog ‘n inwoner, Danie Brits, laat weet dat ‘n vreemde wit Hilux bakkie vier mense op die plaas kom aflaai het.

Danie en Henk het toe ‘n draai op die plaas gaan ry op soek na die vier ongenooide besoekers. Hulle kon egter niks vind nie en het omstreek 01:45 besluit om terug te keer na hulle huise toe. Danie, wat by Takala (Molozi Trust) woon, het wel ‘n vreemde bakkie ‘n paar meter vanaf sy plaasheining langs die pad gesien staan. Die bakkie het rustig begin wegry toe hy Danie gewaar. Danie het toe die bakkie agterna gesit. Steeds was die bakkie glad nie haastig nie en het selfs langs die pad gestop vir 15 minute. In daardie stadium het die inwoners vermoed dat die inbrekers dalk teruggekeer het na die plaas om die goed wat hulle die vorige aand gesteel en versteek het te kom oplaai.

Volgens Johnny ervaar inwoners op plase vanaf Louis Trichardt tot op Levubu gereelde inbrake en diefstalle. Dat inwoners ongenooide besoekers op hulle plase vind is nie ongewoon nie, maar wel dat die booswigte die huise binnegaan terwyl die inwoners tuis is. Die inbrake is by die polisie aangemeld, wat wel vingerafdrukke by Johnny se huis kon lig. Die plaaswag het ook in rekordtyd gereageer op die voorval. Wat die jongste kriminele aktiwiteite in die area betref, word boere gemaan om veiligheid op hulle plase op te skerp.

 

 
 
 

Viewed: 929

 

 
 

Karla van Zyl

Karla van Zyl joined the newspaper team in February 2021 as a junior intern.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT