ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die Paws 4 U span, afgeneem saam met oorlede Ryan Burchell se ouers en sussie. Voor, van links na regs, is Ilse Kadur met Mattfield, Eileen Calvert met Penny, Chris Begbie met Chase en Trish Keegan met Morgan. After hulle staan Charlotte, Tony en Jade Burchell. Paws 4 U het R35 000 ontvang wat ingesamel is tydens die prefekteprojek ten bate van kinderkankermaand.

Ryan se moedigheid inspireer ander om te help

Date: 17 October 2020 By: Andries van Zyl

Hulde is verlede Vrydag aan die 6-jarige Ryan Burchell gebring tydens ‘n gedenkdiens vir hom by Laerskool Louis Trichardt. As deel van die seremonie is ‘n spesiale naamplaatjie op die skool se gedenkmuur vir Ryan aangebring.

Die jong Ryan het op 23 Augustus vanjaar sy stryd teen kanker verloor. Terwyl Ryan egter nog in die hospitaal was vir behandeling, het hy besoek ontvang van die nie-winsgewende organisasie Paws 4 U. Hy het regtig die besoeke waardeer en het baie plesier uit die honde geput wat spesifiek opgelei is om ondersteuning en bemoediging aan kankerlyers te bied.

As ‘n waarde-gedrewe skool het me. Irene Adendorff tydens die geleentheid gesê dat hulle deur Ryan se moedigheid ook aangemoedig is om ander te help. Hulle het besluit om ‘n prefekprojek te loods namens Ryan as deel van kinderkankermaand en die gemeenskap het behoorlik hul harte en hande oopgemaak.

‘n Totaal van R70 000 is met die projek ingesamel. Die helfte hiervan (R35 000) is tydens Vrydag se seremonie aan die span van Paws 4 U oorhandig, terwyl die ander helfte aan die Makhado Care Group geskenk is. Tydens die geleentheid is Ryan se ouers, Tony en Charlotte, asook suster Jade, ‘n vergroting gegee van klein Ryan se interaksie met die Paws 4 U honde. Sy klasmaats van die Graad 0-klassie het daarna ook elk ‘n protea gaan neerlê by die gedenkmuur ter nagedagtenis aan Ryan.

 

 
 
 

Viewed: 563

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

Laerskool Louis Trichardt se hoofleiers het tydens die geleentheid ook R35 000 oorhandig aan Jernay McLeod en Angela Brennan van die Makhado Care Group. Van links na regs is Derrick Barnard, Bennita Rheeder, Angela, Jernay, Irene Adendorff (waarnemende skoolhoof), Jannes van der Goot en Liné Schlesinger.  

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT