ADVERTISEMENT:

 

 
 

Tannie Baba Miller (86) is verlede week oorlede. Foto verskaf.

Soutpansberg se geliefde tannie Baba oorlede

Date: 16 October 2020 By: Anton van Zyl

Een van die Soutpansberg se bekende “naaldwerk-tannies”, tannie Baba Miller, is verlede week oorlede in die ouderdom van 86.

Anna Magrieta Miller, alombekend as tannie Baba, is ‘n boorling van Louis Trichardt en het haar hele lewe hier gewoon en gewerk. Sy is gebore ‘n nooi Naudé op 29 Augustus 1934. Sy het op Louis Trichardt skoolgegaan en is op 12 Julie 1952 getroud met nog ‘n boorling van die streek, Simon Petrus Miller.

Oom Simon, soos hy alombekend was, het aanvanklik die Simba Kontantwinkel op Levubu bedryf. In die vroeë 1960’s het hy en tannie Baba Noordelike Uitrusters op Louis Trichardt begin. Dié klerewinkel was destyds langs Great North Kafee geleë (hoek van Krogh- en Songozwistraat).

Noordelike Uitrusters was vir etlike dekades die voorkeur verskaffer van skooluniforms en sportklere. Verskeie generasies se kinders het hier aangeklop om hul skoolklere te kry en gereed te maak vir hul eerste dag op laer- of hoërskool.

Oom Simon en tannie Baba het aanvanklik op die plaas Welgevonden geboer, sowat 15 km uit die dorp op pad na Levubu. Later jare het hulle die plaas verkoop en dorp toe getrek.

Tannie Baba was veral bekend vir haar vlytigheid met naaldwerk. Sy het menigte nagte deur die jare omgewerk om heelwat jong bruide in die dorp se trourokke te ontwerp en te maak. Sy het ook vele matriekafskeidrokke en talle ander klere gemaak.

In 1998 het hulle besluit om Noordelike Uitrusters te sluit en af te tree. Tannie Baba was egter nog volstoom betrokke met naaldwerk en het ook heelwat by besighede soos El-Natan uitgehelp. Sy het ‘n geweldige passie gehad vir naaldwerk en het graag haar kennis gedeel.

Oom Simon is in Augustus 2004 oorlede en tannie Baba het toe vir ‘n tyd lank by haar kinders gewoon. “In 2011 het sy besluit om saam met die ou tannies te gaan skinder by Ons Tuiste Ouetehuis,” vertel hul jongste seun, Simon. Sy was hier woonagtig tot en met haar afsterwe verlede Dinsdag (6 Oktober). Sy laat haar drie seuns (Boet, Kobus en Simon) asook hul gades (Gerda, Annetjie en Alida) na, asook sewe kleinkinders en agt agterkleinkinders.

“Die familie wil net weer vir almal by Ons Tuiste bedank, drs. Fred en Emil vir al hul onbaatsugtige hulp en bystand, ds. Jan Pretorius vir al jou omgee en liefde en elke liewe een wat ‘n oproep gemaak en boodskap gestuur het. Daar is te veel name om hier te noem,” sê Simon.

 

 
 
 

Viewed: 1058

 

 
 

Anton van Zyl

Anton van Zyl has been with the Zoutpansberger and Limpopo Mirror since 1990. He graduated from the Rand Afrikaans University (now University of Johannesburg) and obtained a BA Communications degree. He is a founder member of the Association of Independent Publishers.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT