ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Willie en tannie Sophia Roux op oom Willie se 90ste verjaardag op 1 Augustus. Foto verskaf.

Soutpansberg se oom Willie vier 90 goeie jare

Date: 07 August 2020 By: Pétria de Vaal

Oom Willie Roux het geen bekendstelling in die Soutpansberg en omstreke nodig nie. Op 1 Augustus het hy die mylpaal van 90 geseënde jare bereik.

Oom Willie is ‘n man wat diep spore getrap het in die wildbedryf in Suid-Afrika. Hy het wildveilings tot stand gebring, met die eerste een in Suid-Afrika wat in 1974 op Hoedspruit aangebied is.

Sy kinderjare het hy op ‘n wynplaas in die Worcester-omgewing deurgebring. Met ‘n landboukwalifikasie in die hand het hy paaie gekruis met veeboerdery asook tamatieboerdery. In hierdie verband het hy baie by die ZZ2 tamatie-reus, Bertie van Zyl, geleer. In 1964 het hy as bemarkingsbeampte by Vleissentraal in die Komatipoort-omgewing begin werk. In 1970 is hy as afslaer en assistent-bestuurder op Louis Trichardt aangestel. In 1973 is hy bevorder tot bestuurder van Vleissentraal Bosveld en in 1993 het hy amptelik “afgetree”.

Oom Willie se belangstelling in en respek vir afslaers het reeds op skool ontwikkel. Hy het vroeg in sy lewe besef dat ‘n suksesvolle afslaer mense se belangstelling met ‘n paar kort woorde moet kan prikkel. “’n Afslaer moet kan práát,” sê oom Willie. ‘n Ander baie belangrike vereiste vir ‘n afslaer is dat hy iemand moet wees wat kan bemark en verkoop. “Dit help ook as jy jou kopers ken,” voeg oom Willie by.

Diegene wat al by oom Willie se veilings was, kan getuig van sy vaardighede en professionaliteit in dié bedryf – iets waarmee hy nog lank ná sy aftrede doenig was.

Met tannie Sophia aan sy sy, is oom Willie voorwaar geseënd om hierdie hoë ouderdom te bereik. Dit loop egter ook in die gene: Oom Willie se oorlede pa, ‘n wynboer van Worcester, het self meer as 90 jaar oud geword.

Volgens oom Willie se kinders is hy ‘n rustige mens en baie geliefd - ‘n ware heer. “Die feit dat hy geen kwaad in sy hart het nie, maak dat hy alles op ‘n vreedsame, rustige manier aanpak en oplos. Sy geheue is ook verstommend. Hy herinner ons gedurig aan iemand se verjaardag,” sê sy seun Hanno.

Hy wou nie ‘n groot verjaardagviering hê nie en het die dag rustig tuis deurgebring.

 

 
 
 

Viewed: 843

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT