ADVERTISEMENT:

 

 
 

Oom Ben Harris, wat ná 56 jaar in die onderwys nou finaal afgetree het in die ouderdom van 80 jaar. Foto verskaf.

Oud-skoolhoof tree finaal af op ouderdom van 80 jaar

Date: 21 March 2020 By: 

Ná 56 jaar getroue diens in die onderwys het oom Ben Harris finaal in Desember 2019 afgetree.

Met sy eerste aftrede vroeërjare by die destydse Transvaalse Onderwys Departement, waar hy as onderwyser, skoolhoof en kringinspekteur gedien het, kon oom Ben nie stilsit nie. Na ‘n paar jaar se bestuur van konstruksieprojekte het oom Ben se liefde vir die onderwys veroorsaak dat hy in Januarie 2002 by Emmanuel Christian School (ECS) buite Louis Trichardt aangesluit het.

Hy het altesaam vir 11 jaar by ECS die senior leerlinge in wiskunde en natuur-en-skeikunde onderrig.  Sy toewyding, deeglikheid en harde werk spreek vanself, wat daartoe gelei het dat hy selfs in sy finale jaar van onderwys in die 2019 matriekeksamens die top wiskunde onderskeidingskandidaat (U. Lugaga van ECS) in die Soutpansberg Oos-kring (die dorpskole) geproduseer het.  Volgens die skoolraad is sy gees van uitnemendheid nie net op akademiese vlak nie, maar ook in sy handhawing van Christelike beginsels.

Alhoewel oom Ben nou finaal uit die onderwys getree het, is hy nog steeds betrokke by ECS deur sy dienste beskikbaar te maak vir middagklasse. Sy hart bly maar in die onderwys! Sy kollegas en die bestuur van ECS meen dat hy vir almal ‘n groot inspirasie en voorbeeld is en spreek groot waardering uit vir sy diens by die skool.

Oom Ben getuig verder: “My verbintenis met Emmanuel was goue jare van my lewe. Die Christelike karakter van die skool was, en is steeds, die fundamentele bousteen en onderlê die daaglikse doen en late van die personeel en leerlinge. Die liefde, respek, vriendskap en professionele atmosfeer wat ek altyd beleef het, ook van Hennie van Niekerk, die skoolvoorsitter, was vir my die ‘moskombersie’ wat my lewe verryk en steeds laat groei het. Ek wil my dank uitspreek teenoor Sandy James (vorige hoof), Muralda van der Nest (huidige hoof) en die hele personeel en elke leerling wat my onderwysloopbaan by die skool ‘n finale hoë bergpiek gemaak het. Ek vertrou my verbintenis met ECS sal nie verbreek word nie. Mag die skool steeds bou op die vaste grondslag – Christus Jesus, ons Leidsman.”

 

 
 
 

Viewed: 958

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT