ADVERTISEMENT:

 

 
 

Rina Buys (links) van die Charity Shop, afgeneem saam met Vannie Bouwer (regs) van Bergcare se deernispakkieprojek.

Charity Shop is daar om almal te help

Date: 18 January 2020 By: 

Menige inwoner is seker bewus van Bergcare se Charity Shop in Louis Trichardt, wat daargestel is om behoeftige mense te help. Ongelukkig is daar steeds mense wat nie al die feite het oor presies hoe hierdie winkel funksioneer nie.

Ds. Jan Pretorius, voorsitter van Bergcare se direksie, het in ‘n verklaring gesê daar was verskeie redes waarom Bergcare as nie-winsgewende organisasie besluit het om die Charity Shop in 2014 te begin.

Die visie was om ‘n sambreelorganisasie daar te stel vir behoeftige persone, ‘n besluit wat geneem is na ‘n samewerkingsooreenkoms tussen Bergcare, die Suid-Afrikaanse Vrouefederasie (SAVF), die plaaslike Christelike Maatskaplike Raad (CMR) en kerke in die gemeenskap. “Dit voorkom bedelary waar behoeftige persone tussen welsynsorganisasies en kerke loop en vra vir klere en huisraad. Die welsynsorganisasies en kerke het nie geweet wie gee vir wie nie.  Nou is daar kontrole maatreëls,” het Pretorius gesê. Die Charity Shop het verder ten doel gehad om aan die gemeenskap ‘n een-stop punt te verskaf waar skenkings afgelaai kon word.

Pretorius het verduidelik dat die doelwitte van die Charity Shop uit hoofsaaklik drie komponente bestaan, naamlik skenkers, kopers en Bergcare se deernispakkies.

Wat eersgenoemde betref kan die Charity Shop nie bestaan sonder skenkings uit die gemeenskap nie. “Mense skenk wat hulle oorvloedig het of nie meer nut voor het nie. Mense skenk klere wat te klein of groot is, of kombuisware en meubels wat nie meer gebruik word nie.  Wat een mens weggooi is vir ‘n ander  bruikbaar en van waarde,” het Pretorius gesê.

Die tweede komponent is die verkoop van produkte. “Tweedehandse produkte word teen ‘n bekostigbare prys verkoop. Persone wat by die Charity Shop koop, se rande word gerek deur die besparings op nuwe produkte. Hulle menswaardigheid, selfwaarde en selftrots word gerespekteer deurdat hulle self kan betaal vir produkte,” het Pretorius gesê. Dit is hier belangrik om te noem dat werklike behoeftige persone steeds GRATIS vanuit die Charity Shop gehelp word na ‘n volledige assessering deur ‘n maatskaplike werker van Bergcare, die SAVF of CMR.

Die laaste komponent is Bergcare se deernispakkies. “Bergcare het die Charity Shop baie nodig om armoede in ons gemeenskap te verlig. Die inkomste vanuit die Charity Shop word aangewend vir die koop van voedselitems wat nie deur genoeg skenkings verkry word nie, vir ons tweeweeklikse deernispakkies aan behoeftige bejaardes en gesinne. Sonder die inkomste van die Charity Shop kan Bergcare se deernispakkieprojek nie voortgaan nie. Tans word 67 pakkies voorsien aan 120 individue. Die Charity Shop en deernispakkieprojekte word gestruktureerd en op ‘n georganiseerde wyse gedoen,” het Pretorius gesê.  

Pretorius het laastens gesê dat hulle ‘n direksie het wat kwartaalliks bymekaar kom asook ‘n Bergcare Bestuurskomitee wat die dag-tot-dag take verrig.  “Aan die einde van elke finansiële jaar word die boeke en finansies van Bergcare deur ‘n ouditeursfirma geoudit,” het Pretorius gesê.

 

 
 
 

Viewed: 502

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT