ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Makkie de Beer (82) vroeër afgeneem met van die boeke wat uit haar pen gevloei het. Foto verskaf.

Bekende plaaslike skrywer oorlede

Date: 07 September 2019 By: 

Bekende plaaslike digter en skrywer, tannie Makkie de Beer van Louis Trichardt, is op 28 Augustus in die ouderdom van 82 jaar oorlede.

Tannie Makkie was ‘n boorling van die Brits-omgewing. “Sy het groot geword onder die Hartbeespoortdam, het die reuk van beesmisvloere geken en het water gedrink uit die Kareespruit,” het haar seun Buks gesê.

Tannie Makkie het haarself in Louis Trichardt kom vestig in 2002 na haar aftrede op 65-jarige ouderdom. Tot in daardie stadium het sy vir etlike jare opgetree as matrone by die hoërskool in Mokopane.

Met haar aftrede het tannie Makkie begin doen wat sy altyd nog wou doen – om te skryf. “Sy het so uit die vuis uit van vroeg tot laat, bladsy vir bladsy, begin skryf,” het Buks gesê. Dan het sy vir Hester en oorlede Hendrik Bester gevra om dit te tik.

In ‘n stadium het tannie Makkie besluit dat dit beter sal wees om haar eie rekenaar en drukker aan te skaf. Sy het vir haar ‘n skootrekenaar gekoop en vinnig dié “nuwe” tegnologie geleer. So het tannie Makkie se eerste boek, Gees van die Labrador, die lig gesien en spoedig het nog vier boeke gevolg.

“Die Soutpansberg en sy skoonheid het haar baie geïnspireer en haar boeke het gehandel oor mense en die dinge wat hulle in die natuur aanvang,” het Buks gesê.

Buks het sy dank uitgespreek teenoor al sy ma se Facebook-vriende oor die hele wêreld. “Dankie aan al die noue vriende en vriendinne in Louis Trichard wat haar ondersteun het, veral toe sy ‘n rystoel moes kry,” het Buks gesê. Tannie Makkie moes hoofsaaklik van ‘n rystoel gebruik maak, nadat sy ‘n paar jaar gelede geval en haar regter arm gebreek het. Sy het ook haar heup seergemaak en kon daarna nie meer vir lank loop nie. “Sy was bang sy val weer, daarom die rystoel,” het Buks gesê.

Tannie Makkie was iemand was positief gelewe het. Sy het ook nie gaan lê toe sy sowat drie jaar gelede begin blind word het nie. “Toe sy nie meer die Soutpansberg se skoonheid kon sien nie, het sy spottenderwys gesê dat sy vanweë haar blindheid al beter ‘voel’,” het Buks gesê.

Buks het ook sy dank uitgespreek teenoor Maud Myburgh en haar ambulans-span wat sy ma ná haar val op 6 Junie na die dokter vir x-strale en na die Zoutpansberg Privaathospitaal geneem het. Tannie Makkie het tydens die val haar been gebreek. “Dankie ook aan Ons Tuiste Ouetehuis wat haar na haar ontslag uit die hospitaal met ope arms ontvang het. Dankie, Kittie, vir alles wat jy en jou span mense daar vir haar gedoen het, en dankie vir die gemoedsrus wat ons familie ervaar het omdat ons geweet het dat sy in goeie hande is,” het Buks gesê.

Wyle tannie Makkie sal veras word en die familie sal ‘n privaat roudiens vir haar hou. Haar as sal op 25 September by haar oorlede man (wat in 1982 oorlede is) se graf geplaas word op Hoedspruit. Sy word oorleef deur haar seuns Jaco de Beer (en skoondogter Suzette), Karel de Beer (en skoondogter Kim), Bertie de Beer (en skoondogter Michelle) en Buks de Beer (en skoondogter Adri), tien kleinkinders en vyf agterkleinkinders.

“Dankie ook aan Mariaan van der Merwe wat haar altyd met haar boeke se kunswerk gehelp het, Leach Printers wat van haar boeke gedruk het, Hester Beukes vir die tikwerk en ds. Jannie van Niekerk vir die besoeke,” het Buks gesê.

 

 
 
 

Viewed: 615

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT