ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die gewone nagadder is in die algemeen ‘n baie rustige slang en sal eerder padgee as hy teëgekom word. Hulle is maklik uitkenbaar aan die prominente V-vorm op die nek en kop. Foto verskaf.

Moenie dié slang se byt ligtelik opneem nie

Date: 08 December 2018 By: Andries van Zyl

In hierdie week se artikel oor giftige en gevaarlike slange in die Soutpansberg kyk ons na die alombekende gewone nagadder (Causus rhombeatus).

“Alhoewel hierdie kleinerige slang, gemiddeld 60cm tot amper ‘n meter, matig giftig is, is ‘n byt van hierdie slang nie iets om ligtelik op te neem nie,” het plaaslike slangkenner en -vanger Jan “Slang” van Rooyen gesê.

Die gewone nagadder het ‘n sitotoksiese gif en die byt kan soms baie onaangenaam wees, aangesien hierdie slang ongelooflike groot gifkliere het wat tot in die nek strek. “Ernstige byte kan swelling, pyn en soms selfs plaaslike nekrose veroorsaak. Alhoewel teengif werk teen die gif van die nagadder, is dit amper nooit so ernstig dat teengif nodig is nie,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen het gesê die nagadder is in die algemeen ‘n baie rustige slang en sal eerder padgee as hy teëgekom word. “As hulle vasgekeer word, of kwaad gemaak word, sal die slang sy lyf opblaas en woes sis en pik,” het Van Rooyen gesê.

Nagadders jag in die aande en vreet hoofsaaklik net paddas en skurwe paddas, maar sal ook bedags in die son lê en bak. Anders as ander adders het hierdie slang gladde skubbe en kan hulle maklik uitgeken word aan die prominente V-vorm op die nek en kop. Die slang se lyfkleur is gewoonlik ligbruin tot grys.

“Wanneer hierdie slang teëgekom word, kan jy hom maar net met rus laat. Moet asseblief nie die slang probeer optel of hanteer net omdat hy baie rustig voorkom nie,” het Van Rooyen gesê.

Van Rooyen het inwoners uitgenooi om hom te skakel by tel. 081 217 9213 vir meer inligting oor die nagadder. Indien iemand ‘n probleem ondervind met ‘n slang op hul erf of in hul huis, kan Jan ook geskakel word, so ook Frikkie Venter by tel. 082 058 7601. “Ons kan ook gekontak word ten opsigte van slangbyte,” het Jan gesê.

Van Rooyen het weereens inwoners versoek om nie sommer net slange voor die voet dood te maak nie, maar eerder om hulle uit te los of iemand te skakel om die slang te verwyder. “Baie, baie dankie aan almal wat ons kontak vir hulp met probleem slange en ook die foto’s wat ingestuur word vir uitkenning,” het Van Rooyen gesê.  

 

 
 
 

Viewed: 2398

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT