ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 63-jarige André Weideman tree Vrydag, 30 Augustus, ná 44 jaar en agt maande af. Vir die afgelope 23 jaar was hy hoofaanklaer vir die Nasionale Vervolgingsgesag se Thohoyandou-streek, met sy kantoor op Louis Trichardt.

André roep howe vaarwel ná bykans 45 jaar in staatsdiens

Date: 30 August 2024 By: Andries van Zyl

Een van die Soutpansberg se staatmaker staatsamptenare, die 63-jarige André Weideman, gaan op Vrydag, 30 Augustus, sy laaste dag in die kantoor deurbring, waarna hy sy aftrede gaan geniet. Dit bring ’n einde aan Weideman se indrukwekkende loopbaan van 44 jaar en agt maande in die regte, waarvan hy die afgelope 23 jaar hoofaanklaer vir die Nasionale Vervolgingsgesag in die Thohoyandou-streek was.

Weideman se loopbaan as hoofaanklaer, met sy kantoor wat in die landdroskantoor op Louis Trichardt geleë was, het op 6 Augustus 2001 begin, op sy verjaarsdag. Tog strek sy loopbaan in die regte terug na Desember 1979 toe hy as klerk van die hof op Virginia in die Vrystaat begin werk het. In 1980 en 1981 het hy sy twee jaar verpligte nasionale diensplig voltooi, waarna hy vanaf 1982 tot 1985 regte deur Unisa gestudeer het. In daardie stadium het hy by die Departement van Justisie se hoofkantoor in Pretoria gewerk. Hy het dit opgevolg met ’n loopbaan in die Ministerie van Justisie vanaf 1988 tot Julie 1993, waarna hy van Augustus 1993 tot in middel 1996 as staatsaanklaer in die Pretoria-Noord Landdroshof werksaam was. Hierna is hy aangestel as senior aanklaer in die Pretoria Landdroshof, tot in Julie 2001, toe hy tot hoofaanklaer vir die Thohoyandou-streek bevorder is. Die streek sluit in feitlik die hele voormalige Venda en ou Verre-Noord, met 14 landdroskantore onder Weideman se beheer.

Weideman het verduidelik dat sy besluit om af te tree gevolg het ná die onlangse dood van ’n groot vriend hom. Sy vriend is kort van sy 62ste verjaarsdag aan kanker oorlede. “Ek het vir my vrou Griet gesê ons ken nie ons tyd meer nie. Ek is gesond en alles, maar ek het besef daar is nog ’n lewe ná werk ook,” het Weideman gesê. Wat dit betref kon Weideman reeds vanaf die ouderdom van 60 jaar al aftree. “Ek voel dit is tyd vir bietjie verandering. Tyd om te rus en bietjie iets anders te doen,” het Weideman gesê.

Wat vir Weideman uitgestaan het in sy loopbaan was die bevrediging wat hy ervaar het met elke skuldigbevinding. “Op die ou end het dit vir my gegaan daaroor om sukses te behaal deur ’n skuldigbevinding te kry en te weet geregtigheid het geskied,” het Weideman gesê. Vir hom was sy werk nooit ’n las nie, maar eerder ’n passie.

“Wat vir my ook uitstaan oor die jare is die goeie verhoudinge wat ek met my aanklaers en wetstoepassingsbeamptes gebou het. Dit is waarom ’n mens se lewe eintlik wentel. As jy dit vir so lank doen, is die belangrike deel samewerking tussen ons en rolspelers, insluitend die gemeenskap. Dit is die enigste ding wat jou suksesvol maak,” het Weideman gesê. Wat dit betref het Weideman gesê dat jy jouself die vraag moet vra of jy regtig ’n lawyer of the people is, of net daar is om ’n salaris te verdien. “Dit moet jou passie wees,” het Weideman gesê.

Wat laagtepunte betref, het Weideman gesê hy moes dit maar hanteer. “Jy moenie kwade gevoelens aan die einde van die dag hê as jy ’n saak verloor op meriete nie. Dit gebeur en dit is gelukkig dat dit so gebeur. As almal wat aangekla word skuldig bevind word, is dit ook nie goed nie. So, dit is goed as die prosesse werk,” het Weideman gesê.

Volgens Weideman het hy geen begeerte om ’n privaat loopbaan in die regte te volg ná sy aftrede nie. “Ek het gesê dat ek soos die matrieks wat klaarmaak eers ’n gap-jaar gaan vat. Ek sal betrokke raak by die plaaswag en as ’n lid van die gemeenskap by strukture as dit nodig is, maar ek sal nie betrokke wil wees by howe en hofwerk nie. As ek dié deur toetrek, is daardie deel klaar,” het Weideman gesê.

Oor wie sy opvolger gaan wees, het Weideman gesê dat hulle vir eers iemand sal aanstel wat tydelik sal waarneem. Die pos sal dan geadverteer word en ’n aanstelling sal dan gemaak word. Ten druktyd was dit nie bekend wie tydelik in Weideman se pos ná sy aftrede sal waarneem nie. “Daar is genoeg ouens om aan te gaan,” het Weideman gesê en bygevoeg dat hy volle vertroue in die Nasionale Vervolgingsgesag het dat die beste kandidaat aangestel sal word. “Ouens loop en die lewe gaan weer aan. Daar is altyd iemand wat jou werk kan doen, en daar is goeie mense,” het hy gesê.

Op persoonlik vlak is Weideman getroud, met die egpaar se kinders wat almal reeds getroud en uit die huis is.

“As ek na my loopbaan kyk, wil ek vir die aanklaers, die polisie en my kollegas in die regsberoep sê dankie vir die ondersteuning deur die jare,” het Weideman ter afsluiting gesê.

 

 
 
 

Viewed: 1216

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

ADVERTISEMENT