ADVERTISEMENT:
Wyle Martie Oberholzer (62). Foto verskaf.
Date: 09 August 2024 By: Pétria de Vaal
“My ma wou nie ‘n normale begrafnis hê nie. Daar gaan ‘n ‘High Tea’ vir haar in Pretoria gehou word. Dit was haar wens. Sy was regtig anders as ander mense,” sê Jacomien Smith, dogter van Martie Oberholzer.
Martie, of “Juffrou OB” soos sy onder haar Hoërskool Louis Trichardt-leerders bekend gestaan het, is op 2 Augustus vanjaar in die ouderdom van 62 jaar oorlede. Martie het aan die einde van 2023 by Triegies afgetree. Sy en haar man, Kobus, het toe na Polokwane verhuis om naby Jacomien en haar drie seuns te wees.
Martie (Martha Elizabeth) Oberholzer (née Basson) is op 19 Augustus 1961 gebore. Sy het in Potchefstroom Onderwys gestudeer en later ook 'n meestersgraad in opvoedkundige sielkunde verwerf. “Sy het by Laerskool Ellisras begin skoolhou waar sy ook my pa, Kobus, ontmoet het. Deur die jare het sy ook by Hoërskool Settlers, Zeerust en David Brink in Rustenburg skoolgehou. My ouers is op 31 Desember 1984 in Ellisras getroud,” sê Jacomien.
Theo Müller, hoof van Hoërskool Louis Trichardt, noem dat Martie en Kobus albei vanaf Noordwes Provinsie na Hoërskool Louis Trichardt gekom het. Albei het departementele poste gehad. Kobus het tegnologie aangebied en Martie Engels. Kobus het voor Martie afgetree. Martie het Engels gegee vir Graad 8 en 9 en in ‘n stadium ook Graad 11 en 12. Sy was werklik geliefd onder leerders en kollegas. “Haar werk was altyd noukeurig. Sy was goed voorbereid vir haar klasse. Martie het ‘n oop hand gehad. Sy het graag gegee en gehelp waar sy kon. Nie net aan byvoorbeeld behoeftige leerders nie, maar aan almal om haar. Dit het geld, klere en kos ingesluit.”
Jacomien bevestig dat haar ma dit nooit sou toelaat dat ‘n leerder NIE ‘n toer of matriekafskeid bywoon weens ongunstige omstandighede nie. “Sy het self ingespring en borge gesoek.” Blessing Semenya is een van die leerders wat graag deel dat haar juffrou haar gehelp het met ‘n matriekafskeidrok en alles wat daarmee saamgaan.
Martie sal veral onthou word vir haar betrokkenheid by netbal. Een keer per jaar het sy haar netbalspanne in pienk klere laat speel – vir kanker-fondsinsameling. Blessing vertel dat sy deel was van die “Netbal vir Kanker” span. Met trots dra Blessing steeds hierdie pienk uniform.
Blessing vertel ook dat sy en “Juffrou OB” ‘n hegte verhouding gehad het en dat mense gedink het dat Martie haar aanneem-ma was. Martie was altyd daar vir haar. Sy noem dat sy baie bevoorreg is om iemand soos Martie in haar lewe te kon hê - wat haar siel kon aanraak.
Oud-leerder Erika Buys skryf in ‘n huldeblyk dat “Juffrou OB” haar tweede ma was, asook haar steunpilaar in moeilike tye. “Ek was een van baie kinders wat onder haar vlerk was. Vandag is ek die persoon wat ek is - as gevolg van die waardes wat sy aan my oorgedra het. Baie besluite wat ek geneem het, is aan haar te danke – selfs al het sy nie daarvan geweet nie. Sy was my engel op aarde. Ek onthou ‘n gesprek tussen ons: ‘Juffrou ek weet nie hoe ek vir juffrou eendag sal kan terugbetaal nie,’ waarop sy geantwoord het: ‘Erika, ek wil niks hê nie, maar as jy ooit die geleentheid kry, doen ook iets goeds vir iemand anders.’ Haar woorde sal ek nooit vergeet nie,” sê Erika.
Jacomien beaam dat sy ‘n ongelooflike onderwyseres was. “Die sitkamermat was altyd vol boeke. Sy het dan op haar maag gelê en merk. Sy het onderwys gelewe. Sy het nie omgegee wie van haar hou en wie nie. As ‘n leerder te na gekom is, sou sy vir hom of haar gaan baklei. Sy was ‘n stem vir dié wat nie ‘n stem gehad het nie. Sy het altyd die ekstra myl vir netbal en kanker geloop. Sy was altyd daar vir ons, vir my pa, vir my en my broer, Manus, en haar kleinkinders. Laasgenoemde het ‘n baie spesiale plek in haar hart gehad. Ek onthou byvoorbeeld die jaarlikse seevakansies – sonder uitsondering is ons almal soontoe. Sy was baie lief vir swem in die see en het spesiale tye in die branders saam met haar kleinseuns deurgebring. Sy was altyd vóór in die water!
“My ma was altyd met iets besig. Iemand met ‘n massive persoonlikheid soos sy laat ‘n massive leemte in ons lewens. Vir 33 jaar het sy die stryd teen kanker gestry. Uiteindelik was haar liggaam moeg en is sy in die hospitaal oorlede. Sy sou altyd sê: ‘Ek wil nog een chemo doen, ek wil nog net een keer weer probeer.’ Die sterkste vrou wat ek al ooit in my lewe teëgekom het! Wanneer mense vir my vra hoe ek dit regkry om altyd sterk te wees, is dit omdat ek haar dogter is! A warrior raised me!” sê Jacomien.
Martie se oudste kleinkind, CJ Smith, skryf: “Ouma het ons altyd só baie ondersteun, elke oproep ná elke eksamenvraestel, elke ‘Mooi C’ langs die rugbyveld. Ouma was ‘n ware engel en die beste ouma waarvoor ek kon vra. Ek weet dat Ouma trots op my was.” CJ se jonger broer, Jordan, sê: “Ouma was altyd daar vir my by my atletiek en het die hardste geskree! En ons sal nooit die avontuurlustige persoon wat Ouma was vergeet nie. Vir altyd Ouma se Jordman!”
Martie word veras en laat haar man Kobus, haar kinders Jacomien Smith en Manus Oberholzer en kleinkinders CJ, Jordan en Eben Smith en Ewald en Ella Oberholzer agter.
Viewed: 1991
|
Tweet |
More photos...
ADVERTISEMENT
ADVERTISEMENT:
ADVERTISEMENT