ADVERTISEMENT:

 

 
 

Plaaslike skrywer dr. Philip Venter met die omslag van sy boek RauTem in die agtergrond.

Plaaslike skrywer se boek oor 1977 “Smit-moorde” baie gewild

Date: 19 July 2024 By: Pétria de Vaal

Louis Trichardt skrywer dr. Philip Venter het geen bekendstelling nodig nie. Van die 32 titels wat reeds uit sy pen verskyn het, is RauTem sekerlik dié een wat deesdae die meeste opspraak verwek.

Ouer lesers sal moontlik die misterie rondom die “Smit-moorde” in 1977 onthou. Die woorde RAU TEM is met rooi spuitverf op hulle woonplek in Springs se kombuismure asook  die yskas aangebring ten tye van die koelbloedige moord op Robert Smit en sy vrou, Jeanne-Cora. Geen uitsluitsel is ooit oor die rede vir die moorde verkry nie.

Venter noem dat hy gereeld oproepe en boodskappe ontvang waarin hy vermaan word om liewer sy neus uit hierdie gebeure te hou – 47 jaar ná die gebeure. “Ek het selfs ‘n dooie aap waarvan die keel afgesny is, in my tuin gekry – of dit verband hou met die dreigemente weet ek nie, maar dit kan ‘n boodskap ter bevestiging daarvan wees,” sê Venter.

RauTem is die tweede boek wat deel is van ‘n trilogie. Skeermes is die eerste titel en Kleinskeer volg op RauTem. Kleinskeer is pas gedruk en beskikbaar,” sê Venter.

Venter noem dat die boeke storieboeke is - novelles wat gebaseer is op feite. “Ek het egter vir ongeveer twee jaar lank deeglike navorsing gedoen en is selfs in gesprek met Liza, die Smit-egpaar se dogter, wat self ook steeds navorsing doen en ‘n publikasie die lig laat sien het. Wie agter die moorde is, is ná al die jare steeds ‘n raaisel,” noem Venter.

Dr. Smit was van 1971 tot 1975 ambassadeur by die Internasionale Monetêre Fonds in Amerika. Daarna was hy direkteur van die maatskappy Santam Internasionaal. In 1977 het Smit vir die verkiesing in Springs vir die Nasionale Party gestaan. Die egpaar was juis daar vir hierdie doel, hoewel hulle permanent in Pretoria gewoon het.

Venter vertel dat Smit juis opdrag van die destydse regering ontvang het om na Switserland te reis – met ‘n spesiale opdrag.  By die bankier in Zürich het Smit sekere ontdekkings gemaak en het teruggekeer met ‘n aktetas vol dokumente. Hy sou kort ná sy aankoms in Suid-Afrika ‘n voorlegging doen. Voordat dit gedoen kon word, is hy en sy vrou vermoor.

Venter het ‘n verskeidenheid bronne geraadpleeg, onder meer die tesis van O.J. van Graan: “Die Verskynsel van Geheimhouding van die Bedrywighede van die Openbare Sektor met besondere verwysing na die Republiek van Suid-Afrika” – voorgelê vir sy doktorsgraad in lettere en wysbegeerte by die destydse Universiteit van Port Elizabeth in 1984.

‘n Resensie van RauTem wat onlangs deur die tydskrif Sarie gedoen is, was ná die publikasie daarvan die derde-gewildste storie in Sarie.

“Die vyfde oplaag van RauTem is reeds uitgegee. Van al my boeke verkoop dit die vinnigste.  Elektroniese kopieë is ook beskikbaar. My uitgewer het ook onlangs spesiale herdrukke van al my boeke, waarvan twee digbundels is, die lig laat sien.  Dit word as ‘n stel verkoop,” sê Venter.

Om boeke aan te koop kan dr. Venter gekontak word by 083 444 7672.

 

 
 
 

Viewed: 1322

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

Sponsored Content

McDonald’s Suid-Afrika loods hul “Ken Ons Kos” veldtog

Advertorials: 12 July 2024

McDonald’s Suid-Afrika het ‘n veldtog geloods wat daarop gemik is om verbruikers meer te vertel oor die kwaliteit van hul voedselprodukte, asook die klem wat die maatskappy plaas op volhoubare produksie en etiese werkswyses by verskaffers.

ADVERTISEMENT