ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jan “Slang” van Rooyen, afgeneem buite die kantore van die Zoutpansberger. Daar is 'n moontlikheid dat Jan dalk sy hand of arm kan verloor, ná ‘n slangbyt deur ‘n wipneuskobra op 23 Februarie aan sy linker wysvinger. Hy is op die pad na herstel, maar benodig ekstra mediese hulp.

Jan 'Slang' se arm in gevaar ná slangbyt

Date: 15 March 2024 By: Andries van Zyl

Jan “Slang” van Rooyen is ‘n trotse mens en nie iemand wat sommer vir hulp sal vra nie. Tog sal hy uit sy pad uit gaan om ander te help, soos wat hy doen om probleemslange kosteloos by mense te kom verwyder. Onlangse gebeure noop nou dat inwoners hulle harte en hande ook vir Jan sal oopmaak in sy uur van nood.

Jan is op 23 Februarie deur ‘n wipneuskobra aan sy linker wysvinger gebyt. Die slang het hom ‘n vol dosis gif toegedien en Jan is dadelik na die Louis Trichardt Gedenkhospitaal vir behandeling, aangesien hy nie ‘n mediese fonds het nie. Van ons lesers sal onthou dat Jan in Februarie 2019 ook in die hospitaal geëindig het, nadat hy deur ‘n mamba gebyt is. Gelukkig was dit nie ‘n vol byt nie, en Jan kon die byt oorleef.

Teen Saterdag, 24 Februarie, het Jan homself uit die Gedenkhospitaal ontslaan aangesien hulle hom nie spesialis mediese behandeling kon gee vir ‘n slangbyt nie. Volgens Jan het hulle nie eens teengif of ‘n ventilator gehad nie.

Soos die geluk dit wou hê het ‘n vriendin van Jan hom kort voor die slangbyt Vrydag kom verras met ‘n besoek. Sy het al die pad vanaf Witrivier gery om te kom kuier. “Wys jou nou net hoe werk die Here,” het Jan gesê. Die vriendin het na hy homself uit die hospitaal ontslaan het net daar besluit hy moet saam met haar terug Witrivier toe. “Ek was maar deurmekaar en het versorging nodig gehad,” het Jan gesê.

Asof die slangbyt nie erg genoeg was nie, het Jan op Maandag, 26 Februarie, die hartseer nuus ontvang dat sy ma, Cornelia, oorlede is. Dit was vir hom ‘n geweldige terugslag gewees. “So tussen deur die slangbyt en behandeling moes ek nog begrafnis ook reël,” het Jan gesê.

Jan het verlede week sy ma se begrafnis op Excelsior in die Vrystaat gaan bywoon, waarna hy Sondag weer teruggekeer het Louis Trichardt toe. Maandag was hy by sy huisdokter en amptelik is hy nog vir drie weke afgeboek. “Ek is broke in my m#@r in,” het Jan gesê. Toe hy Sondag by die huis kom het hy gesien sy een hond het nog bosluiskoors ook. “Dit ook nog,” het Jan gesê.

Die prognose na Jan se besoek aan die huisdokter was nie goed nie en Jan is gewaarsku dat daar ‘n kans is dat hy sy hand of arm kan verloor indien die wond wat deur die slangbyt veroorsaak is nie korrek genees nie. Alhoewel die neurotoksiese (wat sy organe aangetas het) simptome van die slanggif begin vervaag het, is dit die sitotoksiese uitwerking van die kobra se gif wat Jan se gesondheid nou in die balans het. “Dit tas die weefsel in my hand en arm aan,” het Jan gesê.

Die grootste vrees nou is dat Jan infeksie in sy weefsel kan opdoen. Tans is hy op sterk pynstillers en antibiotika wat teen ‘n duur prys kom. Daar is ander behandeling beskikbaar wat sy herstel kan aanhelp, maar Jan het gesê hy het net nie die geld daarvoor nie.

“Dit is die ergste byt wat jy kan kry ... Dit is soos iemand wat ‘n vuurwarm yster by jou vingerpunt indruk, op met jou arm tot teen jou skouer. Dit is hoe ek elke sekonde van die dag voel. Ek het ‘n hoë pyntoleransie, maar op ‘n skaal van een tot tien is die pyn ‘n 50,” het Jan gesê.

Soos reeds genoem is Jan nie iemand wat vir hulp vra nie. Dit is waarom sy vriende besluit het om in te spring om te probeer help. Kontak is gemaak met die manne van Tafelronde Zoutpansberg 66. Alhoewel hulle nie finansieel kon bydra nie, het hulle wel hulle fondsinsamelingsrekening beskikbaar gestel waar weldoeners donasies kan inbetaal. Die fondse kan dan in oorleg met Jan se huisdokter gebruik word vir sy behandeling.

Jan se huisdokter, dr. Fred Badenhorst, het egter gesê dat dit in hierdie stadium moeilik is om te sê wat presies Jan se behandeling vorentoe gaan behels en hoeveel dit gaan kos. Hy het dit vergelyk met iemand wat ‘n voorspelling maak deur in ‘n kristalbal te kyk. Maar die kort en die lank daarvan is dat Jan wel verdere, en redelike duur, mediese behandeling gaan benodig. In hierdie stadium sal die fokus wees op die behandeling van die wond self, sodat dit nie infeksie opdoen en die hele arm ontsteek nie.

Touch wood, ek hoop en gaan hierdie ding wen. My arm en my organe is nog in gevaar. Mens moet die ding maar uitry. Dit is maar net so, maar dit kos geld,” het Jan gesê.

Persone wat graag Jan finansieel wil bystaan kan inbetalings maak in rekeningnaam ROUND TABLE 66 by Eerste Nasionale Bank (FNB) in rekeningnommer 52866832804. Die takkode is 260149. Gebruik asseblief die verwysing “Jan Slang” wanneer inbetalings gemaak word. “Mense hoef nie eers geld te gee nie. Medikasie kan ook help en self hondekos vir my diere,” het Jan gesê. Wat Jan die nodigste nou het is effektiewe en gereelde wondbehandeling.

 
 
 

Viewed: 2169

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT