ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Juan Smalle (21). Foto verskaf.

Groot hartseer na jong man se dood

Date: 03 February 2023 By: Andries van Zyl

Die skielike dood van die 21-jarige Juan Smalle die afgelope naweek het die Soutpansberg-gemeenskap tot in sy wese geskok en vir pa Jacques en broer Pierre met baie vrae gelaat. Juan het gedurende die vroeë oggendure van Saterdag, 28 Januarie, sy eie lewe geneem op sy pa se plaas net buite Louis Trichardt.

“Niks kan jou voorberei vir so iets nie, veral as al die goed om jou in plek is en alles loop mooi. Daar is nie noodwendig krisisse waarvan jy weet nie. Met die studies het dit goed gegaan … Dit was sy beste jaar op universiteit en sy beste eksamen wat hy ooit geskryf het. Die sake van die hart was reg. Die liefde was daar … Ons het dit glad nie verwag nie,” het Jacques Dinsdag in ‘n onderhoud gesê.

Volgens Jacques en broer Pierre het hulle regtig geen tekens dat iets verkeerd was bemerk nie. “Hy het partykeer ‘n bietjie stil geraak, teruggetrokke geraak, op sy eie,” het Jacques gesê.

Juan en Pierre is albei op Oudtshoorn gebore, waarna Jacques-hulle in 2004 na Louis Trichardt verhuis het. Die seuns het albei hulle laerskoolloopbaan by Ridgeway Independent  School voltooi. Juan was daarna vir die eerste helfte van sy hoërskoolloopbaan by Boys High in Pretoria, waarna hy sy hoërskoolloopbaan in 2019 by Hoërskool Merensky klaargemaak het met vyf onderskeidings agter sy naam as een van die skool se Top 10 matrikulante. Hy het daarna industriële ingenieurswese by die Universiteit van Stellenbosch gaan studeer en sou hierdie week vir sy vierde en finale jaar van studies terugkeer.

Vir beide Jacques en Pierre is Juan se dood bitter moeilik om te verwerk. Tog kon hulle vreugde vind in die mooi herinneringe aan hom. “In ons familie was hy sekerlik die mees belese, met ‘n wye kennis,” beaam beide. Hy was ook baie lief vir kosmaak. “Sy broer het hom dalk leer braai, maar agter die kospotte was hy die meeste tuis gewees,” vertel hulle.

“Sjoe, en hy was lief vir sy sokker! Hy het Manchester United ondersteun en ons moes tot die hemp vir hom koop. As daardie span speel vanaand, dan het hy die wedstryd gekyk. Hy het geskreeu soos ons skreeu as ons rugby kyk en iemand druk ‘n drie. Hy het die sokker name geken en die Engelse Premierliga het hy verstaan,” het Jacques gesê. “Hy was erger as die ou ooms wat rugby kyk,” onthou Pierre met ‘n glimlag.

Waar Jacques en Pierre gekies het om meer in die kalklig te beweeg met loopbane in die politiek, was Juan die teenoorgestelde. Die kalklig was nie vir hom nie. Vir hom was genoeg goed genoeg. “Ek en Pierre het hierdie verhouding van ‘Ons vat die wêreld aan!’ Ons hanteer die wêreld se probleme en die aardse besittings. Ek en Juan het weer altyd die intieme gesprekke gehad oor menswees. Ek en hy kon praat oor die sake van die hart. Ek kon sy hart hoor,” het Jacques gesê.

Dat Juan se dood ‘n groot leemte laat in Jacques en Pierre se lewens is duidelik. “Ek kon die kind enige iets vra. Hy het nooit nee gesê nie. Dit gesê, het hy ‘n sterk opinie gehad – baie sterk. Hy sou met jou redeneer. Hy het ook ‘n skerp sin vir humor gehad,” het Jacques gesê. “Hy was ‘n baie nederige mens gewees … Ons kon lekker kuier die vakansie en ek kon darem hierdie jaar die eerste keer vir hom sê dat ek vir hom lief is,” het Pierre bygevoeg. As broers het hulle hul liefde vir mekaar gewys, maar nooit gesê nie.

Jacques het gesê dat hy dankbaar is vir Covid-19. “Ek is dankbaar vir Covid, want op hoërskool was hy ‘n koshuiskind. As jou kind op koshuis is en jy werk, dan mis jy tyd saam met hulle vir vyf dae ‘n week, partykeer ses dae. So, jy mis baie. Toe kom Covid en daardie eerste jaar kon hy by my in die huis wees. Dit was goed gewees … Ek sê altyd Covid het ons twee bymekaar gebring,” het Jacques gesê.

Oor die hoekoms en waarom het Jacques gesê ‘n moeilike en lang pad van herstel lê vir hulle voor. Beide hy en Pierre vind egter vertroosting daarin dat Juan se saak met sy Skepper reg was. “Die verse wat hy in sy Bybel onderstreep het, vorm die essensie van geloof - dit wat belangrik is. Hy het na aan sy Here geleef,” het Jacques gesê. As deel van die proses van “herstel” ten opsigte van Juan se dood het Jacques gesê dat hulle besluit het om die kerkie op die plaas, wat al die jare as kerk onderhou word, te omskep in ‘n huldeblyk van blydskap, nie hartseer nie, aan Juan. “Daar moet foto’s wees van lewe, nie dood nie. Ek dink dit sal mooi wees,” het Jacques gesê.

‘n Roudiens vir wyle Juan vind Maandag, 6 Februarie, om 11:00 vanuit die Agapé Christen Sentrum op Louis Trichardt plaas. Die diens sal waargeneem word deur pastoor Craig Whitcomb. Jacques en Pierre het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap, beide plaaslik en van ver, vir hulle boodskappe van medelye en vertroosting. Hulle het ‘n spesiale woord van dank gerig aan die Milton-familie, Risham Maharaj en familie, Karen Kriel, Adam van EMS, Dion en Barbara Svoboda, die Agapé-gemeente, pastoor Craig Whitcomb, Bez Bezuidenhout en Pierre se verloofte Jandeléé de Jongh vir hulle buitengewone ondersteuning in hierdie tyd van hartseer.

 

 
 
 

Viewed: 3314

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT