ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Joy van der Walt (94). Foto verskaf.

Tannie Joy se stem nou stil

Date: 18 August 2022 By: 

‘n Jarelange welbekende en beminde inwoner van Louis Trichardt, tannie Joy van der Walt, of aan almal bekend as Ouma Joy, is op Vrydag, 12 Augustus, in die Zoutpansberg Privaathospitaal oorlede aan natuurlike oorsake as gevolg van veelvuldige orgaanversaking weens Covid en ‘n reeks beroertes.

Joy van der Walt is gebore op 23 Februarie 1928 op die plaas “Ladybrand” in die Bandelierkop-omgewing, waar haar ewe bekende pa, Tom Fitzgerald, met stoet Simmentaler beeste geboer het. Sy het haar laerskoolloopbaan in Graad 1 aan die destydse Louis Trichardt Laerskool, wat geleë was waar die Nictus kompleks net skuins oorkant die Haantjiekerk nou is, begin. Haar hoërskoolloopbaan het sy in Pretoria voltooi aangesien die oorlog daardie tyd aan die gang was en hulle by familie in Voortrekkerhoogte moes woon terwyl haar pa diens gedoen het in Afrika.

Haar eerste man het gesterf aan ‘n hartaanval laat in die 1950’s en sy het daarna met Nic van der Walt getrou, en die paartjie het hulle op die plaas “Kildare” gevestig, net anderkant die Ben Lavin Natuurreservaat. Die plaas was kaal en moes van onder af opgebou word met lyndrade, huisbou, boorgat, ens. Die paar het die boerdery opgebou tot ‘n baie goeie bees-, bok- en hoenderboerdery. Beide was ook kranige tennisspelers.

Oom Nic het in Julie 1990 gesterf, waarna Ouma Joy eers vir ‘n ruk alleen gewoon en daarna naby haar jongste seun, Gene, gaan woon het. In 2000 het sy by haar ander seun, die bekende arbeidsregkenner in Louis Trichardt, Dr Len van der Walt, ingetrek, waarna sy vir bykans 22 jaar deel van sy huishouding en onder sy sorg was. Makulêre degenerasie, ‘n ongeneeslike siekte wat uiteindelik blindheid tot gevolg het, is in 2000 by haar gediagnoseer, en in 2011 moes ‘n hulp vir haar aangestel word. Sedert 2015 was sy heeltemal afhanklik van ‘n hulp wat haar “oë” was.

Ouma Joy het op 23 Februarie vanjaar oudergewoonte na Grasdak gegaan, saam met haar onmiddellike familie, om haar 94ste verjaarsdag te vier. Slegs 10 dae daarna het sy erg siek geword met Covid en moes opgeneem word in die Zoutpansberg Privaathospitaal. Ongelukkig het haar longe baie skade opgedoen en sy het beroertes gehad, wat haar basies bedlêend gelaat het. Sy is vanaf die hospitaal oorgeplaas na die siekeboeg van Ons Tuiste Ouetehuis, maar haar aanhoudende verswakte toestand het gemaak dat sy oor die naweek van 7 Augustus oorgeplaas moes word na die palliatiewe eenheid van die Zoutpansberg Privaathospitaal, waar sy op Vrydag, 12 Augustus, sterf. Tot op die einde, voordat sy in ‘n koma verval het, was haar leuse “The Lord is my shepherd, I shall not want (die Here is my Herder, ek sal niks kortkom nie)”.

Haar seun Len wil langs hierdie weg sy dank uitspreek teenoor die verpleegpersoneel van Ons Tuiste, wat vir Ouma Joy met die grootste deernis behandel het, asook die Zoutpansberg Privaathospitaal se palliatiewe sorgeenheid. Aan drs. Malan, Gaigher en Badenhorst wil hy ook baie dankie sê. Hulle was daar wanneer hulle nodig was en hulle menslikheid en deernis sal altyd onthou word. “Haar stem is nou stil, maar haar legende leef voort,” het Len gesê.

‘n Begrafnisdiens vir wyle Ouma Joy vind plaas op Saterdag, 20 Augustus, om 11:00 vanuit die NG Kerk Moedergemeente (Haantjiekerk). Die diens sal ook lewendig gestroom word.

 

 
 
 

Viewed: 936

 

 
 

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT