ADVERTISEMENT:

 

 
 

By een geleentheid het uilkenner Pietman Muller gesien hoe ‘n ma ‘n kuiken gehelp het wat gesukkel het om ‘n slang ingesluk te kry, omdat hy dit in die middel beetgekry het. “Sy het die stert gegryp, die slang stadig na haar toe getrek, sodat die kuiken die kop kon vind en dit kop eerste kon sluk. Die slange word gewoonlik vars doodgemaak wanneer hulle na die nes gebring word en hul koppe - behalwe dié van blinde slange - is netjies verbrysel,” het Muller gesê. Foto: Pietman Muller.

Eetgewoontes van gevlekte ooruile in Levubu (Deel 2)

Date: 11 August 2022 By: Andries van Zyl

In verlede week se uitgawe van die Zoutpansberger het ons gekyk na die verskeidenheid van kossoorte wat op gevlekte ooruile (Bubo africanus) in Levubu se spyskaart is en hierdie week ontleed ons dinge so ‘n bietjie verder.

“Die meeste neste wat ek gemonitor en gefotografeer het, word omring deur piesangplantasies en avokadoboorde, waar klam toestande heers en die grond bedek is met 'n dik deklaag van organiese materiaal. Hierdie toestande moedig die teenwoordigheid van slange (veral blinde slange), reënpaddas en oorkruipers aan, wat saam byna 40% van die uile se prooi items uitmaak,” het plaaslike uilkenner Pietman Muller gesê. Sedert 2009 maak hy elke jaar gedurende die broeiseisoen waarnemings by neste en tans is hy besig met ‘n studie oor die eetgewoontes van gevlekte ooruile.

Volgens Muller is al die neste ook naby geboue met sekuriteitsligte, wat geitjies en motte en ander insekte gedurende die nag lok en hulle in die uile se voedingsarea intrek. “Die meeste motte wat gevang word, is groot vrugte suigmotte en Levubu is ‘n vrugteproduserende gebied en veral koejawelboorde lok hierdie motte. Levubu bestaan ook grotendeels uit kleiner plase en die huise is ook nie so ver van mekaar geleë nie, met waterkanale en besproeiingsdamme waar paddas bly. Ligte rondom geboue lok insekte, insekte lok paddas en paddas lok slange en die uile slaan natuurlik munt hieruit. Hieruit kan ons sien hoe gevlekte ooruile hulle dieet aanpas by die oorheersende voedselbron in die omgewing en van geleenthede wat onwillekeurig deur die teenwoordigheid van mense ontstaan, gebruik maak,” het Muller gesê.

Volgens Muller bestaan 'n algemene persepsie dat wanneer uile jag, hulle van 'n uitkykpunt of in vlug op hul prooi afduik en dit met hulle skerp kloue doodmaak. “Oor die jare wat ek hulle al dophou, het ek dit nog nie gesien nie, maar het wel 'n hele paar keer gesien hoe hulle soos hoenders op die grond agter prooi aan hardloop. Ek het wel 'n gevlekte ooruil sien afvlieg van sy sitplek na die wal van ‘n half-meter-diep sloot en toe daarin afgeklouter het om iets wat daar vasgevang was te gaan haal,” het Muller gesê.

Muller het ook vertel hoe hy ná reën waargeneem het hoe die uile hulle op rysmiere onder 'n buitelig op die grasperk voed. “Soms kry ek die indruk dat hulle hier in Levubu nie soveel jag as wat hulle net kos gaan haal nie. Ek het menigmaal gesien hoe 'n paar met mekaar rustig naby hul nes sit en sag kommunikeer en dan skielik wegvlieg en terugkom met 'n reënpadda, slang of oorkruiper. Hulle sal die item by die nes afgee, weer vlieg, net om minute later met nog een terug te kom, soms tot drie en selfs vier direk na mekaar,” het Muller gesê. Hy het verduidelik dat reënpaddas en blinde slange hulself in die grond begrawe of onder die organiese deklaag, terwyl oorkruipers ook hier skuil. “Alhoewel al hierdie organismes van tyd tot tyd na die oppervlak kom, glo ek dat uile hulle ook uitgrawe. Ek het dit nog nie persoonlik gesien nie, maar ek het al by meer as een geleentheid tekens van Levubu se rooi kleigrond op hul snawels gesien, “het Muller gesê.

Uilwyfies is ongelooflike goeie moeders en sal die kleintjie groot maak net waar hy hom bevind, al het hy uit die nes geval. “Daarom moet kleintjies liefs met rus gelaat word; die ma sal hulle wel versorg. Wanneer die kleintjies nog klein is, skeur sy die prooi in stukkies en voer hulle versigtig. Later sal sy dit by haar aankoms oorhandig en dit sal vinnig gegryp en heel ingesluk word,” het Muller gesê. By een geleentheid, het hy bygevoeg, het hy gesien hoe ‘n ma ‘n kuiken gehelp het wat gesukkel het om ‘n slang ingesluk te kry, omdat hy dit in die middel beetgekry het. “Sy het die stert gegryp, die slang stadig na haar toe getrek sodat die kuiken die kop kon vind en dit kop eerste kon sluk. Die slange word gewoonlik vars doodgemaak wanneer hulle na die nes gebring word en hul koppe - behalwe dié van blinde slange - is netjies verbrysel. Oorkruipers leef nog wanneer dit by die nes afgelewer word en hulle word net so lewendig gesluk,” het Muller gesê.

Volgens Muller is gevlekte ooruile ongelooflik goed aangepas by menslike teenwoordigheid en 'n veranderende omgewing. “Hul voorkoms in ons tuine bied fantastiese geleenthede om na hierdie wonderlike wesens te kyk en ons kennis oor hulle te verbreed. My volgende projek is om nou in meer detail na hierdie prooi-items te kyk, veral die slange, om te probeer vasstel of daar spesifieke slange is waarop hulle fokus,” het Muller gesê.

Vir dié doel het hy ook die hulp van kenners ingeroep en Lourens Swanepoel van die Universiteit van Venda en Johan Marais (die slangkenner) gaan help met identifikasie. “Ek wil egter nie weer 10 jaar se waarnemings doen om resultate te sien nie en het daarom soveel neste as moontlik nodig om seker te maak dat ons wel genoeg inligting kry om goeie gevolgtrekkings te kan maak,” het Muller gesê.

“Gevlekte ooruile in ons omgewing broei vanaf Augustus tot November, met ‘n piek in September en Oktober. As gevlekte ooruile dus in jou tuin of op jou plaas in die Levubu-omgewing broei en jy is bereid is om te help met hierdie studie, kontak my gerus. Mense uit ander areas wat betrokke wil raak by studies van die ander uilsoorte, veral witwang-, skops-, gebande- en witkoluiltjies, kan my gerus ook kontak. Neste moet in die nag toeganklik wees en ek en my toerusting moet veilig wees daar. Hoogtes van vier tot vyf meter is nie ‘n probleem nie. Ek kan gekontak word by 082 853 8771 of [email protected].”

 

 
 
 

Viewed: 929

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT