ADVERTISEMENT:

 

 
 

Jannie Bouwer met sy “pee-pot” valhelm by een van die grassnyers wat hy totaal oorgebou het. Die valhelm is vir beskerming, totdat hy vroeg volgende weer moet teruggaan hospitaal toe, sodat ‘n nuwe plaat oor sy kopwond ingeplant kan word. Tans beskerm net sy kopvel sy brein in die area van die 27-jaar-oue wond.

Jannie volstoom aan die gang terwyl hy wag op operasie

Date: 04 August 2022 By: Andries van Zyl

Dit gaan voorwaar goed met die 48-jarige Jannie Bouwer van Louis Trichardt, tot so ‘n mate dat hy weer volstoom werksaam is in sy werkswinkeltjie waar hy grassnyers herstel.

Jannie se gesondheid het die afgelope paar maande maar bietjie wipplank gery. Die “plaat” wat oor sy 27-jaar-oue kopwond geplaas is het einde verlede jaar ‘n abses veroorsaak en moes verwyder word. ‘n Opvolgoperasie het op 1 April plaasgevind, maar die nuwe plaat het ook ‘n abses gevorm. Telkens het Jannie se gesondheid dramaties verswak, maar elke keer het hy teruggeveg.

Op 11 Mei is die nuwe plaat, wat Jannie se brein teen ‘n gapende kopwond van ongeveer 2,5 cm by 13 cm moet beskerm, verwyder. Verder toetse het gewys dat die absesse veroorsaak word deur ‘n rare bakteriële infeksie in Jannie se skedel. Hy is toe vir ‘n periode van ses weke op medikasie gesit om die bakteriële infeksie op te klaar en as alles volgens plan verloop, sal Jannie ‘n nuwe plaat oor die kopwond vroeg volgende jaar kan ontvang. Die gaping is sy kop sal egter dan groter gemaak moet word, aangesien die gedeeltes van die skedel wat weens die infeksie beskadig is, weggesny moet word. Intussen moet hy homself maar mooi op pas.

Volgens Jannie se pa, Jan, is hulle absoluut oorweldig deur die ondersteuning en meelewing wat Jannie en hulle van die Louis Trichardt-gemeenskap ontvang. “Ons wil darem net vir die mense sê dit gaan baie goed met Jannie,” het Jan gesê.

Jannie self is ook nie iemand vir lyf wegsteek nie. Nee, die Zoutpansberger het bietjie verlede week by hom gaan kuier waar hy werksaam is in sy klein werkswinkeltjie, besig om grassnyers te herstel.

Die eerste ding wat mens dadelik opmerk is die ou “pee-pot” valhelm wat hy dra. Dit het eens behoort aan pa Jan, ‘n kranige motorfietsryer. “Dit is maar belangrik vir hom om die brein te beskerm. Al beskerming wat hy tans het, is die kopvel,” het Jan gesê. “Dit is al frustrasie wat ek tans het, die ‘oop’ kopwond’,” het Jannie bygevoeg.

Jannie het vir hom ‘n redelik goeie besigheid gevestig wat die herstel van grassnyers betref. Mense sal partykeer sommer twee of drie stukkende masjiene daar aflaai om reggemaak te word. Sou dit egter goedkoper wees om ‘n nuwe masjien te koop, los hulle in baie gevalle sommer die ou masjien daar. Dan sal Jannie uit hierdie stukkende masjiene parte en komponente ruil en ‘n “nuwe” masjien bou.

Die masjiene word heeltemal uitmekaar gehaal, reggemaak en selfs afgeskuur en oorgeverf, en Jannie wys met trots na die gelamineerde plakkaat van al die grassnyers wat hy al so opgebou het. Sy opgeboude petrolmasjiene verkoop hy vir tussen R800 en R1 200 en die elektriese masjiene vir rondom R800. “Hulle verkoop nogal goed,” het Jannie gesê. “Net nou die dag het ‘n ou weer vir hom gesê: ‘Jannie, daardie masjien wat ek drie jaar gelede by jou gekoop het, hardloop nou nog,” het pa Jan bygevoeg.

Jannie sê dit is nou bietjie stil, want in die wintermaande sny die mense nie so baie gras nie. In die somermaande lyk dinge darem bietjie beter en bou hy heelwat grassnyers op, maak hulle reg of diens hulle. Inwoners wat hom graag wil ondersteun kan vir pa Jan skakel by tel. 082 851 6670.

 

 
 
 

Viewed: 930

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT