ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 27-jarige Henrie Mans van Musina, wat die aand van 31 Maart of vroeë oggendure van 1 April vermoor is. Sedertdien wag sy ma steeds op antwoorde oor wat daardie aand gebeur het. Foto verskaf.

Ma wag steeds op antwoorde maande ná seun se moord

Date: 22 July 2022 By: Andries van Zyl

Vir die tweede keer in vier maande is die grensdorp van Musina geruk deur die sinnelose moord op nog ‘n bekende jong inwoner, die 38-jarige Sakkie Cilliers (sien voorbladberig). Dié moord volg ná die moord op die 27-jarige Henrie Mans gedurende die aand van 31 Maart of oggend van 1 April.

“Ek vat dit maar dag vir dag. Wat kan mens doen? Elke dag hoop ek daar gebeur iets, maar daar gebeur niks,” het Henrie se ma Soekie Kock (44) Dinsdag aan die Zoutpansberger gesê.

Baie vrae bestaan rondom Henrie se dood, vrae waarop sy ma antwoorde soek. Hy is die oggend van 31 Maart deur ‘n vriend van hom by Soekie se huis, waar Henrie woonagtig was, opgelaai om hom te help met werk op ‘n plaas in die omgewing. Dieselfde middag was Henrie vinnig by die huis en het vir sy ma gesê dat hy huis toe kom want hulle was amper klaar met die werk. Dit sou die laaste keer wees dat sy haar seun lewend sien. Die volgende oggend, 1 April, is sy meegedeel dat haar seun se liggaam op die Musina/Tshipise-pad gevind is. Hy het nog al sy persoonlike besittings, soos sy selfoon, by hom gehad.

‘n Nadoodse ondersoek het aangedui dat Henrie dood is vanweë ‘n hou oor die kop, vermoedelik met 'n skerp voorwerp. Die polisie het derhalwe ‘n saak van moord geopen. Die omstandighede rondom sy dood bly ‘n raaisel, soos waarom hy nie huis toe gekom het nie, hoekom sy vriende eers tot die volgende oggend gewag het om vir Soekie van haar seun se dood in te lig, alhoewel hulle blykbaar reeds die vorige aand op sy liggaam afgekom het, en hoe Henrie vanaf die plaas op die Musina/Tshipise-pad geëindig het, waar hy dood aangetref is.

“Ek het elke dag polisiestasie toe gegaan, maar toe word daar vir my gesê ek moenie elke dag kom nie. Nou gaan ek een keer ‘n week polisiestasie toe om uit te vind oor die vordering in die saak. Dit is nou vier maande later, en bitter min het nog gebeur,” het Soekie gesê.

Die slakkepas waarteen die saak vorder is vir Soekie uiters frustrerend. “Ek raak vinnig geïrriteerd met alles. Elke keer as jy polisiestasie toe gaan, of jy kontak hulle, is daar elke keer iets wat hulle nie vir jou kan gee nie. Wat my bekommerd maak, is hoe langer die saak vat, hoe meer bewysstukke  raak weg,” het Soekie gesê.

Soekie het heel emosioneel geraak toe sy gesê het dit voel asof niemand haar wil help om antwoorde oor haar seun se dood te kry nie. Tog bly sy hoopvol. “Ek moet glo dat iemand gearresteer gaan word. Ek weet dit vat tyd, soos hulle vir my gesê het, maar vir my voel dit of dit net te lank vat. My seun het nie verdien om vermoor te word nie. Hy het nie verdien om so lelik verniel te word nie!” het Soekie gesê. Vir haar is ‘n privaat vervolging nie ‘n opsie nie, want sy het doodeenvoudig nie die finansies om daarvoor te betaal nie.

“Wat ek graag wil weet is hoe iemand ‘n ander mens se lewe kan neem? Hoe kan enige iemand so gevoelloos en harteloos wees? My kind verdien geregtigheid en ek glo hy sal dit kry. My kind is nie hier om homself te verdedig of te kan opstaan nie. Dit is my plig as ma om dit vir hom te doen,” het Soekie gesê. As ma was Junie veral vir haar ‘n emosionele tyd. “Hy het die 22ste Junie verjaar en ek moes vir hom blomme langs die pad gaan neersit,” het ‘n bewoë Soekie gesê. Sy het bygevoeg dat die doodstraf teruggebring moet word. “As hulle my kind so lelik kon vermoor het, wie is volgende?” het Soekie gevra.

Enige iemand wat inligting het oor Mans se dood word versoek om die ondersoekbeampte in die saak, speursersant Rudzani  Rambuwani, te skakel by tel. 076 476 7520. Alternatiewelik kan hulle die polisie se 086 001 0111 nommer skakel of hulle naaste polisiestasie besoek.

 

 
 
 

Viewed: 1677

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT