ADVERTISEMENT:

 

 
 

 Wyle Deon Venter (66). Foto verskaf.

Bekende motorman, Deon Venter, oorlede

Date: 15 July 2022 By: Andries van Zyl

Familie en vriende het die afgelope week hartseer afskeid geneem van een van die streek se bekende gesigte, die 66-jarige Deon Venter, wat Vrydagoggend (7 Julie) op Louis Trichardt oorlede is.

Wyle Deon se gesondheid het weens verskeie beroertes begin agteruitgaan die afgelope paar jaar,  waarvan die grootste in 2011 en in Mei verlede jaar plaasgevind het. Sy gesondheid het ‘n verdere knou gekry met die dood van sy seun Louis se vrou, skoondogter Elze Venter, op die jong ouderdom van 30 jaar in Maart vanjaar.

Van die ouer inwoners sal vir Deon onthou as eienaar van Venter’s Garage. “Almal het na hom toe gegaan as hulle probleme met hulle vergassers gehad het,” sê seun Jaco.

Daarna was Deon vir etlike jare werkswinkelbestuurder by die huidige Makhado Munisipaliteit. Hy was welbekend vir sy wit baard en die lang, grys oorpakbaadjie wat hy altyd gedra het. “Al wanneer hy nie daardie baadjie aangehad het nie, was op ‘n Sondag. Dan het hy gewone klere gedra,” onthou Deon se eggenote Daleen met ‘n glimlag. Die egpaar sou in Desember vanjaar hulle 46ste huweliksherdenking gevier het. “Die mense het baie keer gespot en gevra of hy enige ander klere besit. Sommige het gevra of hy ooit ‘n broek dra, omdat jy niks kon sien onder daardie jassie nie,” voeg Jaco by, ook met ‘n glimlag.

Daleen en seuns Jaco en Louis sal hulle pa onthou ‘n ‘n streng man, iemand vir wie jy nie moes lieg nie. Tog was hy ook baie liefdevol. “Hy was altyd bereid om te help, maak nie saak hoe groot of klein jou probleem was nie. Hy het jou altyd probeer leer om jouself te help. Hy was regtig ‘n man gewees op wie se knoppie jy kon druk,” sê Jaco.

“Ons het baie sakke sout saam opgeëet, maar ons het goeie herinneringe. Hy was ‘n wildtuinmens gewees. Hy het nie geglo aan die see nie; sy vakansie was in die wildtuin!” sê Daleen.

‘n Roudiens vir wyle Deon is Donderdag, 14 Julie, gehou vanuit die Gereformeerde Kerk op Louis Trichardt. Hy word oorleef deur sy eggenote Daleen, seuns Louis en Jaco (en skoondogter Marissa), kleinkinders Hanro, Kayla, Wynand en Clarise, en suster Esmé. Die roudiens is waargeneem deur ds. Corné Burger van die NG Kerk Louis Trichardt-gemeente.

Die familie het hulle dank uitgespreek teenoor die gemeenskap van Louis Trichardt vir hulle woorde van bemoediging en ondersteuning in hulle tyd van hartseer. “Ons wil nie mense uitsonder nie, want ons is bang ons laat iemand uit,” sê Jaco. Hulle het egter ‘n spesiale woord van dank gerig aan die Gereformeerde Kerk wat hulle fasiliteite vir die roudiens beskikbaar gestel het en ds. Burger.

 
 
 

Viewed: 1212

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT