ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle Ben Prinsloo (77). Foto verskaf.

Nog ‘n groot boom van die Soutpansberg val

Date: 08 July 2022 By: Andries van Zyl

Hierdie was weer ‘n hartseer week vir inwoners van die Soutpansberg met die dood van Louis Trichardt se welbekende sakeman Ben Prinsloo. Hy is Woensdag, 29 Junie, in die ouderdom van 77 jaar oorlede.

“Oom Ben was ‘n groot boom wat ‘n groot skaduwee gegooi het,” het meer as een vriend en kennis van Ben opgemerk. En hy het voorwaar diep spore in Louis Trichardt se sakegemeenskap getrap, veral as jarelange eienaar van die bekende LTT Brake & Clutch.

Gebore op 23 November 1944 in Krugersdorp het Ben sy skoolloopbaan aan Hoërskool Jan Viljoen in Randfontein voltooi. Ná skool het hy sy vakleerlingskap deur die spoorweë as meulmaker by Koedoespoort voltooi, ‘n ambag waarin sy vier broers en later ook sy tweede oudste seun, Floris, hulleself sou bekwaam. Hy was onder meer werksaam by die destydse Savic en VR Engineering.

Op 4 Oktober 1968 is Ben met die liefde in sy lewe, Lydia (nooi Van Wyk) getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Nico in 1969, Floris in 1971 en Barend in 1972.

Van die dorp se ouer inwoners sal onthou dat Ben se broer Jan onder meer die Total-vulstasie, die Peugeot- en Citroën-agentskap en werkswinkel gehad het op die hoek van Erasmus en Kroghstraat. LTT Brake & Clutch was deel van die besighede en is bedryf vanuit die klein winkelspasie waar Ou Mutual later sou wees (vandag langs die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens in Erasmusstraat).  

“Oom Jan het vir my pa gesê, ‘Hier is ‘n LTT Brake & Clutch wat bestuur moet word, kom bestuur jy hom.’ So, in 1976 het ons hierna toe getrek en my pa het LTT Brake & Clutch bestuur, tot oom Jan besluit het hy verkoop die vulstasie en alles. Toe het hy saam met my pa by Brake & Clutch ingekom as ‘n slapende vennoot,” het Floris vertel.

Floris sou in 1993 by sy pa aansluit, ná voltooiing van sy vakleerlingskap as meulmaker en sy nasionale diensplig. “Vandaar af was ek en my pa nog al die jare betrokke by die besigheid, tot en met Januarie 2018. Die kort en die lank is eintlik baie snaaks. Hy het gesê hy wil vir twee weke net die besproeiing by sy huis gaan regkry en het toe nooit weer teruggekom nie,” onthou Floris met ‘n glimlag.

In 1996 het Ben vir seuns Nico en Barend gevra om by Floris aan te sluit. Dit was in daardie stadium wat hulle oorgeskuif het na hulle huidige perseel, ‘n entjie verder af in Erasmusstraat. “Ek het vir my pa gesê ek huur nie by iemand nie en voorgestel ons gaan praat met oom Steve Krügel om te hoor of ons hierdie gebou [waar hulle vandag nog is] kan koop. BMW was mos al die jare hier gewees, en toe het J&A Diesel ingetrek en oom Willie de Wet het mos die tweedehandse karre hier verkoop. Toe ons hierna toe trek, het ons die Daewoo-agentskap gekry,” onthou Floris. Die nuwe perseel het hulle kans gegee om uit te brei. “Daar waar ek en my pa eers saam gewerk het, was net mooi ‘n dubbelmotorhuis gewees. Beknop en min spasie,” het Floris gesê.

LTT Brake & Clutch was Ben se passie gewees. “Dit was absoluut sy lewe gewees. Tot en met SpeedBrake begin het, was elke koppelaar en elke remskoen wat in hierdie dorp gery het deur my pa se hande,” het Floris gesê.

As sakeman het Floris baie respek vir sy pa. “Hy was hardwerkend, eerlik en dinamies. ‘n Ding het ingekom en ons het planne gemaak en dit uitsorteer. Hy was ‘n planmaker en het dinge aan die gang gehou. Sy kliënte het altyd eerste gekom,” het Floris gesê. “Ek kry vir Piet Uys net nou die dag in ‘n winkelsentrum. Hy sê vir my hy is so jammer om te hoor van my skoonpa, want dit was ‘n ou na wie hy opgekyk het. In die ouer dae, het hy gesê, dan kom hy hier en dan sê my skoonpa: ‘Vat dit, jy kan my later kom betaal.’ Piet sê hy het hom so baie gehelp en my skoonpa het altyd almal gehelp waar hy kon,” het skoondogter Bianca, Floris se vrou, bygevoeg.

“As pa sal ek altyd sy teenwoordigheid mis. Hy was altyd betrokke, maak nie saak wat ek doen nie. Hy sou altyd vra hoe gaan dit by die werk. Toe ek begin vlieg het, wou hy gaan kyk wat ek doen en wou deel wees daarvan,” het Floris gesê. Broer Barend het dit beaam. “Hy was ‘n goeie mens gewees. Hy het altyd ‘n oop hand gehad vir sy medemens.”

Ná sy “aftrede” in Januarie 2018 is Ben met Parkinson se siekte gediagnoseer, alhoewel dit reeds sy sig begin aantas het terwyl hy nog gewerk het. Sy gesondheid het sedert Februarie dramaties agteruit gegaan na ‘n beroerte. Hy kon nie meer praat nie en het minimum beweging van sy ledemate gehad. Hy is op 29 Junie oorlede ná bykans ses weke in die Zoutpansberg Privaathospitaal.

‘n Gedenkdiens vir wyle Ben het reeds Saterdag, 2 Julie, vanuit die Hervormde Kerk in Louis Trichardt plaasgevind. Hy word oorleef deur sy eggenote Lydia, seuns Nico, Floris en Barend, skoondogters Bianca en Adele, suster Meisie, kleinkinders Leoné, Tiaan, Nicolene, Ewald en klein Barend en boesemvriend Johan Taute.

Die familie het hulle opregte dank uitgespreek teenoor die personeel van die Zoutpansberg Privaathospitaal, ds. Etienne van Staden en die gemeenskap van Louis Trichardt en omstreke vir hulle ondersteuning en woorde van vertroosting.

 

 
 
 

Viewed: 1700

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT