ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die bekende landmerk groentemark in Groblerstraat in Louis Trichardt, LTT Market Place (wat almal ken as die ou Fruit & Veg City), het verlede week sy deure toegemaak nadat die eienaar besluit het om die onderneming te likwideer.

Landmerk groentemark sluit deur ná staking

Date: 02 July 2022 By: Andries van Zyl

Een van Louis Trichardt se landmerk besighede, LTT Market Place, oftewel die ou Fruit and Veg City (later Food Lover’s Market) in Groblerstraat, het verlede week finaal sy deure gesluit en daarmee saam het 33 personeellede hulle werk verloor.

Vir eienaar Tobie Kock is dié ‘n hartseer gebeurtenis. Die Zoutpansberger het die afgelope week met hom gepraat oor die gebeure wat tot die sluiting van die winkel aanleiding gegee het. Hy het Maandagmiddag, 20 Junie, finaal die deure toegetrek.

“Dit het basies oor die staking gegaan,” het Tobie gesê. Hy het verwys na die arbeidstaking by die winkel vanaf 28 Januarie tot 13 Februarie vanjaar.

Volgens Tobie is klante vreeslik deur die stakers geïntimideer. Daarmee saam het die publisiteit rondom die staking ook nie sy onderneming goed gedoen nie. “Niemand het belanggestel om na my kant van die saak te luister nie,” het Tobie gesê.

Soos die staking voortgesloer het, het die verliese begin opstapel. “Ek het in 17 dae R973 000 se verkope verloor en R50 000 se produkte weggegooi omdat dit vrot geword het en ek dit nie kon verkoop nie. Om die besigheid aan die gang te hou, het ek en my vrou R800 000 van ons spaargeld in die besigheid ingesit – goeie geld agter slegte geld aangegooi, maar met die hoop dat ons sal oorleef,” het Tobie gesê.

Die stakers wou ondermeer ‘n 12% salarisverhoging hê asook ‘n pensioenfonds. “Wat hulle gehad het [pensioen] by Food Lover’s Market en by my. Maar toe Food Lover’s Market sê ek vat oor, toe wil hulle almal hulle pensioen uitbetaal hê. Toe betaal hulle almal se pensioene uit en hulle almal is in die hemel want almal het ‘n aardige bedraggie gekry. Nou het daardie geld klaar geraak,” het Tobie gesê.

“Die vrou wat alles georkestreer het, het almal in die winkel by die EFF laat aansluit en toe verduidelik sy vir my sy sal haar politieke party hiernatoe bring om my winkel se deure toe te maak … nou sit hulle almal sonder werk. Hulle het hier by my kom sit en huil oor lang diens, want hier is van hulle wat 20 jaar hier gewerk het,” het Tobie gesê.

Op die ou end het die stakers niks gekry nie. “Vanaf Februarie het ek net baklei om die deure oop te hou,” het Tobie gesê. Die persoon wat sy arbeidsaak namens hom hanteer het, het ná die tyd ook opgemerk dat die stakers presies die teenoorgestelde gekry het  van waarvoor hulle gevra het. “Ek het net besluit genoeg is genoeg. Ek het net nie meer geld om in te druk nie en ek gaan ook nie êrens nog ekstra geld leen nie,” het Tobie gesê. Gevolglik het hy die deure toegetrek.

Tobie het die besigheid oorgegee en gelikwideer. Die balju was ook reeds daar om alles op te skryf om te sien wat op Tobie-hulle se batelys is. ‘n Veiling sal dan gehou word en die opbrengs hieruit sal aangewend word om die skuldeisers te betaal.

Tobie sê hy voel sleg dat al die mense hulle werk verloor het. “My verlies is net soveel groter as wat hulle ooit kon dink. Jy het niks, absoluut niks nie. Daar is nie spaargeld oor nie, niks. Op hierdie ouderdom begin ek soos wat ek by my pa se huis uitgeloop het – arm, en ek moet van vooraf begin,” het Tobie gesê. Sy plan was om sy besigheid tot op ‘n sekere ouderdom te bedryf en dan te verkoop. “Maar dit is wat dit is ... jy kan net soveel gee, dan het jy nie meer om te gee nie,” het Tobie gesê.

Maar te midde van die hartseer verlies van sy besigheid sê Tobie hy bly positief. “Maar dit gaan nie oor hoe jy val nie, dit gaan oor hoe jy opstaan. Met die genade van die Here sal ek weer my voete vind. Ek is ongelooflik hartseer dat die winkel toe is, maar ek is nie negatief nie. Daar sal iets anders wees. As die een deur toegemaak word, word ‘n ander deur oopgemaak,” het Tobie gesê.

 

 
 
 

Viewed: 2401

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT