ADVERTISEMENT:

 

 
 

‘n Rare verskynsel in die middel van die winter. Een van die Albasinidam se sluise is die afgelope week oopgetrek om die invloei van water in die dam te midde van die deurdringende reën die afgelope twee weke te reguleer. Hierdie skermgreep kom uit ‘n selfoonvideo wat deur plaaslike inwoner Laurie Bannatyne Dinsdag by die dam geneem is.

Krane weer droog, maar immers reën dit

Date: 30 June 2022 By: Andries van Zyl

‘n Rare verskynsel het die afgelope week plaasgevind deurdat die Albasinidam se een sluis oopgetrek moes word vanweë ‘n oorvol dam. Dit kon grootliks toegeskryf word aan die deurdringende reën wat sedert verlede week oor die streek uitsak. Te midde hiervan het krane in Louis Trichardt en omstreke weer leeggeloop.

Alhoewel so iets in die winter ietwat ongewoon is, het mnr. Fanie Havinga, voorsitter van die Soutpansberg Distrikslandbou-unie en ondervoorsitter van TLU SA se Noordstreek, gesê die praktyk om oortollige water uit te laat is nie ongewoon nie. “Wat die dam betref, glo ek daar is iemand wat goeie bestuur toepas wat betref die dam se damvlakke. Onthou die dam is vol en dit het nou skielik weer gereën, so daar kom ‘n klomp water in wat hulle wil uitlaat. Dit is nie goed vir die dam om bo sy 100% vlak te wees nie. Hulle maak plek vir water wat inkom, wat normaal is. ‘n Paar keer deur die seisoen het hulle dit al gedoen. Dit is vir my verblydend om te sien dat goeie bestuur toegepas word,” het Havinga gesê.

Alhoewel die koue en nat weer nie vir almal ‘n plesier is nie, het Havinga gesê hulle is dankbaar daarvoor. “Vir ons as landbouers is ons eintlik baie dankbaar vir die reën wat nou val, want met hierdie baie beurtkrag help dit dat ons bome water kry met die reën. Reën is op die einde van die dag beter as enige ander besproeiing. So, in hierdie stadium pla dit ons nie regtig baie nie,” het Havinga gesê.

Havinga het ook gemeen die goeie winterreën van die afgelope week is ook nie abnormaal vir die streek nie. “Ons lê mos eintlik in ‘n subtropies gebied hier teen die berg af, so vir ons in die Soutpansberg-gebied is dit maar normaal. Ons het maar net vergeet van hoe dit was in die ou dae toe dit nog mooi gereën het en goed gegaan het met ons,” het Havinga gesê. Hy het bygevoeg dat die goeie reën ook vir boere hier in die noorde ‘n goeie seisoen voorspel.

Volgens Havinga is die prentjie egter nie so rooskleurig vir almal nie. “Vir die res van die land, die hoëveld en die vlaktes en daardie gebiede met die stropers wat nou moet hardloop met die sonneblom en mielies wat op die lande is, is daar bietjie van ‘n probleem. Ek was verlede week in Bloemfontein gewees waar hulle oor die 35 mm gekry het en die mielies wat gestroop word staan in die water. Vir daardie ouens is dit bietjie van ‘n kopseer in hierdie stadium, want hulle weet nie wanneer hulle gaan kan inkom om te stroop nie,” het Havinga gesê.

Maar te midde van ‘n oorvol dam en water wat orals lê, het Louis Trichardt en omstreke se krane weer droog geloop die afgelope week. Die Vhembe Distriksmunisipaliteit het in antwoord hierop Dinsdag ‘n verklaring uitgereik waarin hulle die erge beurtkrag van die afgelope week blameer vir die water tekorte in al die munisipale areas.

“Weens beurtkrag oor die hele land is die pomp van water in ons distrik ernstig geaffekteer. Munisipaliteite soos Musina, Collins Chabane, Makhado en Thulamela ondervind tans ernstige water tekorte vanweë beurtkrag … Ons versoek inwoners om kennis te neem van die elektrisiteitskrisis waarmee ons sit en dat dit watervoorsiening in al ons munisipaliteite beïnvloed,” het Vhembe gesê. Hulle het verskoning gevra vir enige ongerief wat die tekort aan water tans veroorsaak.

 

 
 
 

Viewed: 580

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT