ADVERTISEMENT:

 

 
 

Wyle tannie Marie Visser (89). Foto verskaf.

Bekende tannie Marie Visser sterf op 89 jaar

Date: 23 June 2022 By: Andries van Zyl

Inwoners van die Soutpansberg het met hartseer verneem van die dood van tannie Marie Visser op 25 Mei vanjaar in die ouderdom van 89 jaar en 11 maande. Sy was die afgelope paar jaar naby haar seun Humphrey en skoondogter Giselle in die ouetehuis in Bronkhorstspruit woonagtig.

Tannie Marie was die eggenote van oom Billy Visser wat haar in 2013 ontval het. Hulle is in 1954 getroud en drie kinders is uit die huwelik gebore, naamlik Ann, Humphrey en Gerrit. Die familie het sedert die vyftiger jare in die Waterpoort-omgewing geboer op die plase Renfrew en Hoogeplaats.

Tannie Marie het as jong dogter in die destydse HF Verwoerd Hospitaal haar diploma as verpleegkundige verkry en later gekwalifiseer in kraam- en algemene verpleging. Ná haar huwelik is sy plaas toe om boervrou en huisvrou te wees, waar sy haar kinders grootgemaak het en die plaas help bestuur het, terwyl oom Billy by Vleissentraal gewerk het.

Later jare, toe die kinders groter was, het tannie Marie as matrone gewerk in die destydse (toe nuwe) SAVF Hospitaal op Alldays, vanaf 1971 tot 1975, waar sy menigmaal uitgeroep is na noodgevalle in die plaasgemeenskap, so ver as Swartwater - soms saam met die dokter. Sy het ook ‘n keer of wat afgelos by die Louis Trichardt Gedenkhospitaal, wat nou die staatshospitaal is. Vir etlike jare was sy baie betrokke by die Departement van Gesondheid met die bekamping van malaria en ander siektes onder plaaslike gemeenskappe. Sy sal egter die meeste onthou word vir haar liefde en omgee en lekker kos. Niks was ooit te veel gevra as dit gekom het by haar kleinkinders nie.

“Haar heengaan word diep betreur, maar sy het ‘n vol en mooi lewe gehad,” het die familie gesê. Sy laat haar geliefde kinders, sewe kleinkinders en vyf agterkleinkinders (waarvan drie in Australië woon) agter.

‘n Gedenkdiens ter viering van haar lewe is gehou op 31 Mei vanuit die AGS Koinonia in Bronkhorstspruit. Sy sou op 17 Junie haar 90ste verjaarsdag gevier het.

 

 
 
 

Viewed: 803

 

 
 

Andries van Zyl

Andries joined the Zoutpansberger and Limpopo Mirror in April 1993 as a darkroom assistant. Within a couple of months he moved over to the production side of the newspaper and eventually doubled as a reporter. In 1995 he left the newspaper group and travelled overseas for a couple of months. In 1996, Andries rejoined the Zoutpansberger as a reporter. In August 2002, he was appointed as News Editor of the Zoutpansberger, a position he holds until today.

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT