ADVERTISEMENT:

 

 
 

Die 38-jarige Marisa Naudé-Odendaal van Louis Trichardt is aangestel deur President Cyril Ramaphosa as regter in die Hooggeregshof van Limpopo. Foto verskaf.

Marisa aangestel as regter van Limpopo Hooggeregshof

Date: 02 June 2022 By: Pétria de Vaal

President Cyril Ramaphosa het onlangs met sy handtekening bevestig dat advokaat Marisa Naudé-Odendaal as regter van die Hooggeregshof in Limpopo aangestel is – met effek vanaf 1 Junie 2022.

Gedurende April vanjaar het die Zoutpansberger berig dat Naudé-Odendaal genomineer en aanbeveel is vir een van twee posisies by die Hooggeregshof.

“Mense sê gereeld vir my: ‘Sjoe, jy is ‘n sterk vrou.’ Ek is nie ‘n sterk mens nie, ek dien net ‘n baie sterk en Almagtige Vader. My aanstelling is deur sy liefde en genade,” sê Naudé-Odendaal. Sy wil ook graag vir haar ouers , André en Martie Naudé, dankie sê: “My pa het my geleer vasbyt. Hy het altyd vir my gesê: ‘Omskep elke verleentheid in ‘n geleentheid’ en as ek die dag kom met klaagliedere, het hy vir my gesê: ‘Moet nie kom met probleme nie, kom met oplossings’. My pa was my mentor en rolmodel. My ma, op haar beurt, het my geleer om nooit moed op te gee nie en altyd te streef na ‘n ver wenpaal. Sy het altyd gesê as ‘n droom jou nie bang én opgewonde maak nie, dan droom jy nie groot genoeg nie.”

Naudé-Odendaal sê sonder skroom dat alles in Louis Trichardt begin het waar sy grootgeword het. “Elke persoon in die gemeenskap het bygedra tot my vorming en menswees en uiteindelik my aanstelling as regter. Landdros Molokomme in die Louis Trichardt Landdroshof het by my passie vir litigasie laat ontkiem en ook help ontwikkel. Ek weet waarheen ek op pad is, maar sal nooit vergeet waar ek vandaan kom nie. Daar aan die voet van die Soutpansberg het my wortels geskiet, en in Limpopo het my takke begin groei.”

Marisa het haar LLB en AIPSA Diploma in Insolvensiereg en Praktyk by die Universiteit van Pretoria verwerf. Sy het haar klerkskap by onder meer Coxwell, Steyn, Vise en Naudé in Louis Trichardt gedoen. Aanvanklik wou Marisa net praktiseer as aktevervaardiger en boedeladministrateur. Nadat sy egter in die landdroskantoor op Louis Trichardt verskyn het, was sy baie ingenome met litigasie en haar praktyk het al hoe meer in hierdie rigting begin beweeg. Gedurende 2009 het sy aansoek gedoen by die Pretoria Vereniging van Advokate om haar pupilskap te doen, wat in 2010 plaasgevind het. As praktiserende advokaat het sy nooit in enige spesifieke rigting gespesialiseer nie en is blootgestel aan ‘n wye verskeidenheid van sake. In haar dokumente wat aan die Regterlike Dienskommissie voorgelê moes word, noem Marisa dat dit nog altyd haar droom was om ‘n regter te word en het haarself dus beskikbaar gestel om as landdros waar te neem ter wille van die ondervinding. Sy het opgetree as landdros in Bloemfontein, Dewetsdorp, Zastron en Thohoyandou. Zastron is in hierdie tyd deur die Nasionale Vervolgingsgesag aangewys as die beste presterende hof.

 

 
 
 

Viewed: 2588

 

 
 

Pétria de Vaal

 
 

More photos... 

ADVERTISEMENT

 
 

ADVERTISEMENT:

 
 

ADVERTISEMENT